Matrieks van 2015 sal danksy Maroela Media die geleentheid hê om hul uitslae digitaal op ʼn Afrikaanse platform te sien.
Maroela Media het verlede jaar geskiedenis gemaak as die eerste Afrikaanse aanlyn platform om die matriekuitslae te plaas. “Toe ons in 2014 die eerste keer die e-matriekuitslaestelsel in gebruik geneem het, was ons opgewonde daaroor om matrieks op so ʼn maklike, toeganklike manier toegang tot hul uitslae te gee,” het Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media, gesê.
“Die getal mense wat die stelsel gebruik het, het egter al ons verwagtinge oortref. In die eerste paar dae vandat die uitslae geplaas is, het die matriekstelsel meer as 33 000 bladsyvertonings gehad, met 8 812 unieke besoekers – glad nie sleg vir ʼn stelsel wat in Oktober 2014 die eerste keer in werking gestel en bemark is nie! Ons sien vanjaar uit daarna om aan baie meer matrieks toegang te gee tot hul matriekuitslae, die oomblik wanneer dit beskikbaar gestel word.”
Maroela Media, een van Suid-Afrika se grootste Afrikaanse nuus- en inligtingswebwerwe, gaan ook weer erkenning verleen aan Afrikaanse skole se topmatrieks en kandidate wat ondanks moeilike omstandighede en terugslae goed presteer het.
“Daar is matrieks oor die hele land wat uitstekend presteer, en dié matrieks verdien erkenning. Dis nie noodwendig net dié wat agt of meer onderskeidings behaal het nie. Daar is ook talle matrieks wat goed presteer in baie moeilike omstandighede. Vir hulle is drie onderskeidings net so goed soos agt vir ʼn leerder met makliker omstandighede. Aan hulle bring ons graag hulde deur die artikels wat ons oor hulle en hul ondersteunende families plaas,” het Lombaard gesê.
Registreer hier as jy ‘n kennisgewing wil ontvang sodra jou resultate beskikbaar is.