Só het André de Koning (66) Donderdag aan Maroela Media vertel nadat hy, sy vrou, Linda (64), en hul drie kleinkinders Woensdagmiddag op hul plaas buite Cullinan deur twee gewapende aanvallers oorval is.
André het gesê hy was omstreeks 15:00 op die plaas besig toe hy ʼn oproep van die huishulp kry wat hy nie betyds kon beantwoord nie. “Dit was eienaardig, want sy bel my nooit. Ek het my vrou gebel en toe sy nie antwoord nie, het ek geweet daar is fout.”
Hy is saam met twee van sy kleinkinders wat by hom was na die huis toe en het sy derde kleinkind, ʼn sesjarige seuntjie, by die hek sien staan. “Hy het my net met sulke groot oë aangekyk en gesê, ‘Oupa, daar is mans met gewere in die huis’,” het André gesê.
Hy het sy kleinkinders opdrag gegee om agter ʼn muur by die swembad weg te kruip en is met sy pistool, wat hy altyd by hom dra, in die huis in. Die oomblik toe hy instap, het een van die aanvallers ʼn skoot in sy rigting afgevuur. André én die aanvallers het agter voorwerpe geskuil en ʼn oor-en-weer-skietery het uitgebreek.
“’n Skoot het een van die aanvallers in die kop getref en die ander een het by die trappe opgehardloop. Ek het hom agternagesit, maar daar was geen patrone oor in my pistool nie. Ek het my haelgeweer op die boonste verdieping gegryp,” het André gesê. Die aanvaller is egter weer met die trappe af en het op die vlug geslaan.
André het vinnig die plaaslike veiligheidsgroep via ʼn WhatsApp-boodskap geaktiveer en daarna die polisie gebel. ʼn Kort rukkie daarna is die aanvaller vasgetrek en in hegtenis geneem. Die ander aanvaller is op die toneel dood verklaar.
Linda moes steke aan haar kop kry nadat die aanvallers haar met hul vuurwapens deur haar gesig geslaan het. Sy het ook erge kneusplekke opgedoen. Sy het later vertel dat sy en hul kleinkind in die huis was toe die aanvallers hulle oorval het. Hulle het die vuurwapen teen die seuntjie se kop gedruk en gedreig om hom te skiet as Linda nie vir hulle die kluis sou oopsluit nie. Sy het onderneem om die kluis se sleutels te oorhandig indien hulle haar kleinseun uit die huis laat gaan en hulle het ingestem. Kort daarna het André by die huis opgedaag.
“Mense moet maar weet, jy moet jouself beskerm. Niemand anders gaan dit doen nie,” het André gesê. “Dit is hoekom ek nooit sonder my vuurwapen is nie. Jy hoor altyd hierdie goed, maar jy dink nooit dat dit met jou kan gebeur nie.”
Hy het gesê hy, Linda en die kinders sal almal vir berading gaan. “Ek kan net vir die Here dankie sê dat ons gespaar is. Dit was ʼn baie traumatiese ervaring, maar op ʼn manier is dit ook goed, omdat dit ons herinner dat ons moet vasklou aan ons geloof. Al gaan dinge sleg, moet ons volhard in ons stryd en op die Here vertrou dat Hy ons sal beskerm.”
Kapt. Sarah Mcira, woordvoerder van die polisie, het die voorval aan Maroela Media bevestig en gesê ʼn saak van huisroof en moord word ondersoek. Die verdagte sal Vrydag in die hof verskyn.