Clik here to view.

Mafu Rakometsi, uitvoerende hoof van Umalusi. Foto: ANA
Umalusi, die raad vir gehalteversekering in algemene onderwys en opleiding, het gesê hy werk hard om te verseker dat daar geen ongerymdhede met vanjaar se matriekeindeksamen gaan wees nie.
Mafu Rakometsi, Umalusi se uitvoerende hoof, het Woensdag tydens ʼn nuuskonferensie by die Universiteit van Johannesburg se Bunting-kampus in Aucklandpark gewaarsku dat geen ongerymdhede geduld sal word nie en dat daar drasties teen skuldiges opgetree gaan word.
Die uitspraak volg nadat dit aan die lig gekom het dat grootskaalse kullery in 2014 in verskeie provinsies plaasgevind het.
“Ons doelwit vanjaar is om te verseker dit nie weer gebeur nie,” het Rakometsi gesê.
Rakometsi het gesê Umalusi het sy kontrolemaatreëls vir die eksamens opgeskerp. Umalusi het ook 105 ekstra kontroleerders aangestel.
Die raad het opgemerk dat daar nie genoeg personeel is om kontrole-administrasie te behartig nie. Die raad het ook opgemerk dat daar ʼn tekort is aan nasieners vir geskiedenis, wiskundige geletterdheid, lewenswetenskappe en tale, weens die geweldige omvang van leerders wat dié vakke neem.