
Pilanesberg-lughawe Foto: booktravel.travel
Bedrieërs in Noordwes maak geld uit niksvermoedende werksoekers deur vals poste aan te bied by Mafikeng- en Pilanesberg-lughawens.
“Slagoffers het reeds R295 betaal aan administrasiegelde,” het Shuping Sebolecwe, waarnemende woordvoerder vir die provinsiale departement van vervoer, gesê. “Die bedrieërs doen hulself voor as ʼn werkverskaffingsagentskap vir die lughawens.”
Al twee die lughawens word deur die staat beheer. Die departement het reeds die bedrogspul by die polisie aangemeld.
“Volgens prosedure adverteer ons poste op die regering se intranet, in koerante en regeringstydskrifte. Ons doen dus ʼn beroep op mense om nie om die bos gelei te word deur bedrieërs nie,” het hy bygevoeg.