
Argieffoto Foto: www.saccess-project.eu
In ’n wydlopende verklaring ter herdenking van Erfenisdag sê die FW de Klerkstigting dat die visie van ’n kloppende multikulturele samelewing met ’n mosaïek van kulture en tale wat in harmonie, verdraagsaamheid en respek saambestaan, na 21 jaar nie gerealiseer het nie.
Trouens, van die grondwetlike regte van tale en hul sprekers, kom daar dadels. Vir alle praktiese doeleindes het Suid-Afrika nou een amptelike taal, Engels.
Die FW de Klerkstigting herlei die probleem na die ANC se beskouing van die Nasionale Demokratiese Rewolusie as oppermagtig oor die grondwet.
Jan Publiek sal egter ervaar dat een woord breed oor die pad na ’n grondwetlike uitkoms gespan word – transformasie. Of gevoer tot transformanie, soos Solidariteit dit onlangs gestel het.
Die vlak waar enige rassistiese heksebrousel onder die vaandel van transformasie ingevee word en so oombliklik ’n onaantasbare, “gerespekteerde” baadjie aangetrek kry. ’n Mens hoef maar net die woord “transformasie” te gebruik, en die onreg kry engelevlerke.
Dit laat ’n bitter smaak in die mond as die US onder die vorige rektor ’n spesiale eenheid op die been bring om ’n transformasieplan, wat nié deur die raad goedgekeur is nie, te begin implementeer, maar as ’n raadslid sy demokratiese reg uitoefen en later bedenkinge opper oor alles wat onder die dekmantel van transformasie in die kookpot ingesmokkel word, word gedreig om dissiplinêr teen hom op te tree.
Al hoe meer kommentators en ontleders begin hulle nou by hierdie skrywer se ou en herhaalde standpunt voeg dat daar net te veel gevalle begin voorkom waar transformasieplanne lynreg teen die grondwet indruis. Die FW de Klerkstigting doen dit effektief nou ook goed-gemotiveerd hoewel dit die Nasionale Demokratiese Rewolusie is wat onder skoot kom. Die Stigting stel dit (ongelukkig nog net in Engels) soos volg: “It (the constitution) recognises our 11 national languages and accords them parity of esteem. It enjoins the state to develop our indigenous languages and requires government to be conducted in at least two languages at national and provincial level. It recognises the right of everyone to practise their cultures and use their languages. It accepts the right of everyone to education in the language or languages of their choice at public educational institutions. Above all, it recognises as a foundational value the right to human dignity which is inextricably interlinked with the cultural, language and religious identities of citizens. It establishes the equality of all our communities and prohibits unfair discrimination by anyone inter alia on the basis of language, race or culture.”
In gewone Afrikaans, so lyk dit, beteken “inter alia” (onder andere) hier gewoon Afrikaans het sy alie gesien.
Die Talewet word gebruik om Afrikaans, die enigste Afrikataal met ’n woordeboek vir ruimteterme, as amptelike taal van die Suid-Afrikaanse Ruimte-agentskap te verwyder. Engels, isiZulu en Sepedi sal voortaan gebruik word. Hierdie skrywer, wat vir Maroela Media ruimtenuus skryf wat RSG ook in sy program Sterre en Planete gebruik, boikot gevolglik enige nuus van die Suid-Afrikaanse Ruimte-agentskap.
Op kampusse word ’n bisarre veldtog gevoer om van Afrikaans ontslae te raak “om diskriminasie uit te skakel” omdat, so word geargumenteer, dit meer studente dwing om hul akademiese kwalifikasies in ’n taal wat nie hul moedertaal is nie te verwerf. In die proses word die grondwet vir ’n ses geslaan, maar meer nog die argument is vol gate omdat werklike Engelssprekendes mos nou erg onregverdig bevoordeel word. Boonop spruit die argument dat “alle” akademiese werk internasionaal in Engels geskied uit ideologiese blindheid – al voltooi ’n groot persentasie Nederlanders hul doktorale verhandelings in Engels, is daar ’n reuse skatkis van nie-Engelse akademiese werk in Nederlands en veral tale soos Duits en Spaans. Van die werke in hierdie tale is op velerlei terreine toonaangewend, soos in die arbeidsreg, internasionale reg, administratiefreg, talle tegnologiese velde, en vele meer. Vroeër het min Afrikaanse studente nie ’n Nederlandse handboek of twee gehad nie, en kon heelwat ook Duits lees. Juis noudat die internet dit meer toeganklik maak, nou moet die Suid-Afrikaanse student “verontnooslik” word deur hom tot die Engelse literatuur te beperk.
Hoe ontsettend eng en kleinburgerlik!
Voorts voer die slegs-Engels-drywers aan dat parallelle medium onderrig daartoe lei dat studente op grond van ras geskei word, en sosiale interaksie uitgesluit word. Hulle vergeet dis een ding om saam in ʼn klas te sit, maar ’n ander ding om gedwing te word om in enige verband te sosialiseer met mense wat jou taal-, kultuur en gebruike minag, en heel dikwels weens naakte rassisme jou haat weens jou velkleur. Daar is mos ander maniere om dit aan te spreek as om iemand van sy grondwetlike regte te beroof.
In ’n land waar ontevrede studente sommer R30 miljoen se skade deur brandstigting van geboue en voertuie aanrig en klasse langdurig opgeskort moet word, is dit seker “verstaanbaar” dat die owerhede en universiteitsowerhede die rug agteroor sal buig om ter wille te wees. Wie weet, dalk is hulle die volgende om onder swepe en sambokke deur te loop.
Die feit is egter hulle het nie die grondwetlike reg hiertoe nie – selfs nie eens onder ’n grondwet wat ewe bisar die reg op staking, maar nie die reg om te werk nie, erken.
Daarenteen hét diegene wat graag moedertaalonderrig wil ontvang, ’n grondwetlike reg hiertoe. Met die grondwet daaragter, is dit mos nie nodig nie, trouens, dis heeltemal onbehoorlik, dat dit ’n slagveld sal wees.
My erfenis is vir my mooi, en ek wil graag hê dat my kinders, kleinkinders en verdere nageslagte daarvan sal kan geniet.