Maroela Media het vroeër berig die Somsen-gesin en hul vriende is op ʼn Saterdagaand in hul huis in Linden aangehou toe drie gewapende rowers met klapmusse en 9mm-vuurwapens by die hek ingeglip terwyl die hek besig was om toe te gaan nadat gaste ingekom het. Die rowers het die mense in die huis laat platlê terwyl hulle selfone, horlosies en skootrekenaars bymekaargemaak het. Hulle het uiteindelik met hul buit op die vlug geslaan.
Hans, Riana se man, het destyds aan Maroela Media gesê die gesin is in die proses om na Nederland te emigreer omdat hulle vrees vir hul veiligheid. Hans is intussen reeds Nederland toe, maar Riana en hul drie kinders is nog in Suid-Afrika.
Ironies genoeg moes Riana, ʼn landskapargitek, Dinsdag weereens in die loop van ʼn geweer vaskyk, toe sy by ʼn kliënt se huis in Bryanston beroof is. “Ek het omstreeks 09:30 buite die huis gestaan en met die eienaar van die huis gepraat terwyl sy in haar motor gesit het. Drie van my werkers was besig om gereedskap op die waentjie te laai. Die volgende oomblik het ʼn bakkie langs ons gestop en drie mans het uitgeklim,” vertel sy.
“Ek het eers gedink hulle stop om aanwysings te vra, maar toe sien ek die 9mm-vuurwapen in elkeen se hand. Ek het dadelik my hande in die lug gehou en in Engels gesê, ‘Vat wat jy wil. Moet asseblief nie skiet nie.’” Die rowers het Riana se trouring en armband gevat en haar kliënt gedwing om uit haar motor te klim. Hulle het met die motor en hul bakkie gevlug.
“Dit was so vinnig verby, ek sal hulle nie eens herken as ek hulle weer sien nie. Toe hy daardie vuurwapen oorhaal en na my stap, het daar net so kalmte oor my gekom. Ek het geweet as ek hardloop, sal hy my in die rug skiet. Wat kan jy doen? Jy staan net daar en jy bid dat jy hierdie rooftog ook oorleef.”
Sy het gesê sy is nie kwaad of bang na die rooftog nie, maar wel moedeloos oor die misdaad in die land. “Wat help dit jy is kwaad? Vir wie is jy in elk geval kwaad? Ons hele stelsel het misluk. Al wat jy kan doen, is om dankbaar te wees dat jy leef, dankbaar te wees dat jy nie aangerand of geskiet is nie en aangaan met jou lewe,” het sy gesê.
“Ons is baie hartseer om hierdie land te verlaat. Alles is hier, ons vriende, familie, alles wat ons ken. Maar wat kan jy doen? Daar is net te veel haat in hierdie land. Ek het nou maar vrede gemaak.”
Maroela Media wag vir kommentaar van die polisie.