
Baba M. Die foto is digitaal gemanipuleer om haar identiteit te beskerm.
Die verhaal van ʼn dogtertjie van 18 maande wat glo seksueel mishandel is en deur die “stelsel gefaal is”, het ʼn oud-landdros van Johannesburg genoop om die strydbyl op te neem om vir haar en ander kinders se regte te veg.
Karin Duffey, deesdae ʼn regsdosent, het aan Maroela Media gesê Baba M, ʼn skuilnaam wat gebruik word om die kind se identiteit te beskerm, is glo verlede jaar tussen die ouderdom van ses en nege maande deur ʼn kêrel van haar 23-jarie biologiese ma verkrag terwyl hulle in Middelburg in Mpumalanga gewoon het.
Sy vertel die ma het in die moeilikheid beland en het verlede jaar by ʼn gesin in Kempton Park in Gauteng ingetrek. Die gesin het haar gehelp om ʼn werk te kry sodat sy weer op die been kon kom.
“Baba M se ma het haar op 6 Maart met ʼn plastiekhanger aangerand dat die houe merke op haar beentjies gelaat het,” het Duffey gesê. “Die polisie is ontbied, die ma is aangesê om die huis te verlaat en Baba M is in die sorg geplaas van die gesin wat toe al amper ʼn jaar lank na haar omgesien het. Die ma is egter nooit in hegtenis geneem nie. Baba M het ook geen behandeling of terapie ontvang nie, selfs nadat die seksuele molestering en aanranding onder die aandag gebring is van maatskaplike werkers wat met die saak werk.”

Baba M se been nadat sy aangerand was.
Ná die ma se eerste hofverskyning in die Kempton Park-kinderhof in Junie is Baba M eers in Julie deur ʼn mediese dokter ondersoek. Die dokter se verslag het bevestig dat daar voorheen penetrasie was.
Duffey het gesê die biologiese pa het eers in Augustus van die situasie bewus gehoor nadat die ma uiteindelik sy naam aan die maatskaplike werkers gegee het. Sy het in Oktober van Middelburg na Kempton Park verhuis sonder dat sy hom daarvan ingelig het.
“Die pa het op 28 Augustus vir eerste keer in die kinderhof verskyn en die saak is tot 11 September uitgestel sodat hy regsverteenwoordiging kon bekom. Op 11 September het die landdros sonder enige vooraf waarskuwing aangedui sy gaan Baba M verskuif na wildvreemde mense, uit die sorg van die mense wat sy al die afgelope jaar lank ken.”
Duffey het gesê sy en ʼn prokureur het vir uitstel baklei, waarna die landdros die biologiese pa meegedeel dat, met of sonder regsverteenwoordiging, Baba M op 15 September in ander mense se sorg geplaas gaan word.
“Ons wou dit keer want die kind is reeds erg getraumatiseer en dit is glad nie in haar beste belang om in nou na wildvreemde mense geskuif te word nie. Ons kon eers op 14 September geld bymekaar kry om adv. Frik Swart van Pretoria se Balie aan te stel om namens die pa op te tree. Baba M is egter steeds die volgende dag in onbekende mense van Benoni se sorg geplaas.”
Duffey en Swart beplan om binne die volgende twee dae ʼn dringende aansoek in die hooggeregshof te bring om Baba M terug te plaas in die sorg van die gesin wat na haar omgesien het.
Duffey en talle ondersteuners, waaronder motorfietsklubs, is besig om fondsinsamelingsprojekte van stapel te stuur om geld in te samel vir regskostes wat nie net vir Baba M kan help nie, maar ook ander kinders in die land wat so iets oorkom. Meer inligting oor die fonds sal bekend gemaak word sodra alle nodige reëlings getref is.