
Die motor se wrak. Foto: Verskaf
Vyf mense is dood nadat ʼn vragmotor en ʼn motor Maandagoggend op die N3-suid naby Warden in die Vrystaat reg van voor gebots het.
Chris Botha, woordvoerder van Netcare 911, het gesê vyf insittendes in die motor, vier volwassenes en ʼn kind, was reeds dood toe paramedici by die toneel opgedaag het.
“Die mense se liggame was in die wrak vasgekeer en moes deur die brandweer uitgesny word,” het Botha gesê.
Die bestuurder van die vragmotor is nie beseer nie maar erg getraumatiseerd.
Die oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie en word ondersoek.