Die 14-jarige Valencia Farmer is in 1999 dood ná ʼn gewelddadige bendeverkragting en moord wat skokgolwe deur die land gestuur het. Die Eersterivier-gemeenskap het destyds die vervalle huis waar die aanval plaasgevind het, afgebreek uit woede ná die skoolmeisie se gru-dood.
Farmer kon daarin slaag om na ’n nabygeleë pad te kruip ná die aanval en bure het haar ma geroep wat met haar hospitaal toe gejaag het. Die meisie is 53 keer met ʼn mes gesteek en is twee dae later in die hospitaal dood.
Sy het egter aan die polisie gesê wie haar aanvallers was voordat sy dood is. Daar word geglo dat sy verkrag en vermoor is deur minstens ses mans, maar slegs drie is aan die misdaad skuldig bevind.
Regter Siraj Desai het in 2001 in die hooggeregshof in Kaapstad vir Glenville “Bekkies” Faro (20) en Franklin “Franky” Roberts (19) tot twee keer lewenslange tronkstraf gevonnis. ʼn Derde beskuldigde, wat ten tyde van die misdaad 16 jaar oud was, is tot 23 jaar agter tralies gevonnis.
Desai het tydens die wyd gepubliseerde verhoor gesê die mans het “’n orgie van geweld en seksuele brutaliteit op ʼn weerlose jong meisie losgelaat”.
Nou kan ʼn vierde verdagte moontlik vir die moord aan die pen ry. Elmario Maasdorp, wat ten tyde van die moord 19 jaar oud was, is verlede Saterdag in hegtenis geneem en sal vandag in die Blue Downs-landdroshof verskyn.
Die aanklagte is destyds teen Maasdorp, ʼn lid van die sogenaamde 28’s-bende, teruggetrek weens ʼn tekort aan bewyse. Nuwe bewyse het egter aan die lig gekom en Maasdorp, nou in sy 30’s, sal weer teregstaan op aanklagte van verkragting en moord.
Die polisie glo hulle het hierdie keer genoeg bewyse om ʼn skuldigbevinding te verseker.