
Die verdagtes en gesteelde goedere wat teruggevind is. Foto: SAPD
Drie mans is in hegtenis geneem nadat hulle die eienaar van ʼn kroeg en drie van sy werknemers oorval en een van die werknemers doodgeskiet het.
Konst. Joy Xaba, woordvoerder van die polisie, het gesê vyf verdagtes het Sondag omstreeks 03:00 by die kroegeienaar se huis in Kagisanong in Bloemfontein ingebreek. Die verdagtes het glo in die huis losgebrand en ʼn 22-jarige man, wat as platejoggie by die kroeg gewerk het, doodgeskiet.
Volgens Xaba is een van die ander werknemers erg aangerand en die kroegeienaar met ʼn mes gesteek voordat die verdagtes met sleutels gevlug het. Die verdagtes het glo later teruggegaan na die kroegeienaar se huis waar hulle ʼn televisiestel, Playstation, iPad, kluis en ander huishoudelike items gesteel het.

Die verdagtes wat in hegtenis geneem is. Foto: SAPD
Die polisie het inligting opgevolg wat hulle na ʼn huis gelei het waar die gesteelde goedere gevind is. Drie verdagtes is by die huis in hegtenis geneem en daar is op die gesteelde goedere beslag gelê. Die drie verdagtes, tussen 27 en 30 jaar oud, sal binnekort in die hof verskyn op aanklag van moord, poging tot moord, aanranding met die doel om ernstig te beseer en diefstal.