
Argieffoto
Lesiba Simon Kekana (36), die pa van Limpopo wat daarvan beskuldig word dat hy al vier sy seuns se kele afgesny het, het Donderdag vlugtig in die hof verskyn.
Kol. Ronel Otto, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê Kekana het in die rondgaande hof in Magatle verskyn op vier aanklagte van moord op onderskeidelik Bokang Kekana (13), Keneilwe Kekana (10), Hlologelo Kekana (6) en Lekgoledi Kekana (4).
“Die beskuldigde het aan die landdros gesê hy is nog nie gereed of bereid om aansoek te doen vir ʼn regsverteenwoordiger en borgtog nie,” het Otto gesê. Die saak is tot 6 Oktober uitgestel. Hy bly in aanhouding.
Maroela Media het vroeër berig Kekana, van Moletlane-Mmatjatji in Magatle, se vier seuns het by hul ouma, Kekana se ma, gewoon. Hy het op 4 September die kinders by haar gaan haal en na Gauteng geneem om by hul ma te gaan kuier.
“Hy en sy vrou was glo nie op goeie voet met mekaar nie. Hy het na bewering die Saterdagaand teruggekeer en al vier seuns vermoor deur hul kele af te sny. Hy het daarna selfmoord probeer pleeg,” het Otto destyds gesê.
Kekana is na die Polokwane-hospitaal geneem vir behandeling en is sedertdien in die polisie se sorg ontslaan.