
iOS9
Apple stel vandag ʼn nuwe weergawe van hul bedryfstelsel, genaamd iOS 9, aan die publiek beskikbaar. Dit bevat egter ʼn fout wat talle apps regoor die wêreld breek – insluitend Maroela Media se nuus-app.
Apple is bewus van die probleem en werk reeds aan iOS 9.1, maar volgens kenners kan dit tot ʼn maand duur voordat die opdatering vir die publiek beskikbaar is.
Die fout veroorsaak dat ʼn skoon bladsy vertoon wanneer die gebruiker tussen verskillende bladsye binne ʼn app rondblaai. Slegs apps wat op webbladtegnologie staatmaak om inhoud uit te lê (oftewel hybrid apps) word aangetas.
Hierdie fout kan ʼn ernstige demper plaas op die entoesiasme waarmee gebruikers en ontwikkelaars Apple se produkte aangryp. Dit bied ook uitdagings vir organisasies wat aan hulle app-gebruikers die fout moet verduidelik en verwagtinge louter.
Apple het op 9 September die sluier van sy jongste bedryfstelsel vir iPhones en iPads, genaamd iOS 9, gelig. Volgens Apple verbeter iOS 9 die manier waarop apps saam gebruik word (multitasking) en Siri is slimmer en ken jou gedagtes nog voordat jy vra. Toestelle se batterylewe word verleng en sekuriteit word strenger toegepas.
Skryf vir ons in die kommentaar hieronder of jy al hierdie fout teëgekom het en of dit jou siening oor Apple en hul produkte beïnvloed.