
Ian Chucho. Foto: Verskaf
“Geregtigheid het geskied,” het ʼn dankbare Mariaan Wentzel, ʼn inspekteur van die Lephalale (Ellisras)-DBV gesê, nadat haar verkragter Woensdag gevonnis is.
Die verkragter, Ian Chucho (29) van Zimbabwe, is in die Modimolle (Nylstroom)-streekshof deur landdros Theuns Prinsloo gevonnis, kort nadat hy skuldig bevind is aan roof met verswarende omstandighede en verkragting. Hy is tot effektiewelik 20 jaar tronkstraf gevonnis.
Wentzel, wat nie tydens die uitspraak in die hof was nie, het ná die uitspraak aan Maroela Media gesê sy is dankbaar dat alles nou verby is. “Ek voel geregtigheid het geskied. Dit is ʼn baie goeie voorbeeld vir mense dat die howe slagoffers bystaan en help,” het sy gesê.
Maroela Media het vroeër berig Chucho, wie se naam toe weerhou moes word, is op 10 April in Vaalwater in hegtenis geneem nadat Wentzel op 23 Maart helder oordag verkrag is terwyl haar gesin by ʼn plaashuurhuis naby Dorset, tussen Vaalwater en Lephalale, ingetrek het.
Hy het haar omstreeks 11:00 in die huis oorval en haar na ʼn waterpompstasie gesleep waar hy haar verkrag het. Chucho het met twee selfone van die toneel gevlug.
Wentzel se man het tydens die voorval ʼn vrag besittings in Lephalale, waar hulle sowat vyf jaar gewoon het voordat hulle na die plaashuis getrek het, gaan oplaai toe die booswig toegeslaan het.
Daar was drie kinders by die huis, maar hulle is ongedeerd want Wentzel het met alles in haar baklei om hulle te beskerm. Sy is tydens die aanval met ʼn stomp voorwerp oor die kop geslaan en het kopwonde opgedoen. Sy het ook beserings aan haar gesig en arms opgedoen terwyl sy terugbaklei het. Sy is ná die aanval na ʼn nabygeleë hospitaal geneem.