
Johan Visser. Foto: Facebook
Johannes (Johan) Visser, die 34-jarige vermeende dwelmverslaafde wat Maandag in die noorde van Pretoria in hegtenis geneem is vir die moord op Anita Cassell, het Woensdag saam met sy vriendin in die hof verskyn.
Visser het in die Pretoria-Noord-landdroshof verskyn op aanklag van moord, aanranding met die doel om ernstig te beseer, huisroof en inbraak by ʼn sake-onderneming.

Anesia de Kok. Foto: Facebook.
Sy vriendin, Anesia de Kok, het verskyn op aanklag van besit van gesteelde goedere omdat sy na bewering van die geld by haar gehad het wat Visser glo van sy voormalige werkgewer, Danie Cassell, gesteel het. Volgens De Kok se Facebook-profiel is sy en Visser sedert 27 Julie 2013 in ʼn verhouding.
Mirna von Benecke, polisiewoordvoerder van die Sinoville-polisie, het Woensdag aan Maroela Media gesê die saak is tot volgende Woensdag uitgestel vir verdere ondersoek. De Kok was glo by die Kolonnade in die voertuig toe Visser na bewering die geld gaan steel het.
De Kok is op borgtog van R2 000 vrygelaat. Visser is nie borgtog toegestaan nie en bly in aanhouding.
Maroela Media het vroeër berig Anita, wat saam met haar seun Danie en haar kleinseun in hul huis in Wonderboom in die noorde van Pretoria woon, is tussen 05:30 en 06:00 daar aangeval deur iemand die gesin ken.
Von Benecke het vroeër aan Maroela Media gesê Visser het glo voorheen as kelner vir Danie, medebestuurder van Panarotti’s in die Kolonnade-winkelsentrum, gewerk. Hy is glo ʼn dwelmverslaafde en die slagoffers wou hom help deur vir hom ʼn werk en blyplek te gee. Hy is egter sowat ʼn maand gelede afgedank omdat hy glo nie van sy gewoontes wou afsien nie.
Daar word vermoed dat Visser Maandag by die Cassell’s se huis ingebreek het om die sleutels van die restaurant se kluis te steel. Anita het hom glo in die huis betrap, waarna sy verskeie kere met ʼn mes gesteek is. Sy is op die toneel dood. Danie het op hulle afgekom en is ook gewond en na ʼn hospitaal geneem. Die kleinseun is ná die voorval vir berading gestuur en in ʼn plek van veiligheid opgeneem.
Visser het glo met ʼn selfoon en die restaurant se kluissleutels van die toneel gevlug. Hy het na bewering omstreeks 06:20 by die restaurant ingebreek en ’n onbekende bedrag geld uit die kluis gesteel voordat hy gevlug het.
Te danke aan die vinnige optrede van die Sinoville-polisie en -gemeenskapspolisiëringsforum, is hy omstreeks 15:00 by ʼn dobbelplek in Ninapark opgespoor en in hegtenis geneem.
De Kok is kort daarna ook in hegtenis geneem.