Odette Barkhuizen, wie se man Dinsdag in hegtenis geneem is in verband met haar moord, se ma het Woensdag gesê hulle het al sedert haar dogter se dood vermoed dat haar man daarvoor verantwoordelik is.
“Ons het dit heeltyd vermoed. Hulle twee seuns, Warwick (23) en Wade (17), het vir ons dadelik ná hulle ma se dood gesê hulle vermoed hulle pa is betrokke. Daar was so baie bewyse wat op sy betrokkenheid gedui het. Dit was nie ’n skok toe hy gister [Dinsdag] in hegtenis geneem is nie,” het Pamela Immelman aan Maroela Media gesê.
Barkhuizen is die middag van 11 Junie omstreeks 13:30 in die oprit van haar kantoor in Oakdene, Glenvista, doodgeskiet voordat die “kapers” met haar voertuig gevlug het. Haar motor is later verlate in ʼn straat naby die misdaadtoneel gevind. Haar man is Dinsdag vir haar moord in hegtenis geneem.
Immelman het gesê Barkhuizen en haar skoonseun se huwelik het oor die afgelope jaar heeltemal verbrokkel. “Hulle was al vir ʼn jaar van bed en tafel geskei en sy het net op ʼn punt gekom waar sy besluit het om vir ʼn egskeiding te dagvaar,” het Immelman gesê. “Hy het maar snaakse neigings gehad; erg buierig. Odette het van tyd tot tyd dinge laat val soos dat hy ʼn private speurder gekry het om haar te agtervolg, omdat hy gesê het hy vermoed sy het ʼn buite-egtelike verhouding. Selfs die kinders het gesê hulle glo nie hul ouers sou ooit versoen nie.”
In die verklaring wat Barkhuizen se man kort ná haar dood afgelê het, wat deur Maroela Media gesien is, is daar talle teenstrydighede in sy vertelling van sy bewegings die dag van sy vrou se dood. ʼn Analise wat gedoen is op die dokument van die versekering wat ses weke vantevore op Barkhuizen se lewe uitgeneem is, toon ook dat die handtekening vervals is.
Maroela Media het ook ʼn e-pos gesien wat Barkhuizen se man in April aan ʼn versekeringsmaatskappy gestuur het om te bevestig dat ʼn bedrag van R10 miljoen sal uitbetaal sou Barkhuizen weens onnatuurlike oorsake tot sterwe kom, byvoorbeeld tydens ʼn kaping of gewapende roof.Intussen is die familie desperaat op soek na Warwick sedert sy pa in hegtenis geneem is. Volgens Immelman het Warwick, wat gestremd is, by sy pa gebly. Wade het ʼn paar weke gelede uit vrye wil die huis verlaat. Voordat hulle pa Dinsdag na die polisie is vir ondervraging, het hy Warwick êrens gaan aflaai, het Immelman gesê. Hy is toe in hegtenis geneem en is nou in polisieaanhouding, maar weier glo om te sê waar Warwick is.
“Warwick is fisies gestremd, maar verstandelik is daar niks fout met hom nie. Weens sy fisiese gestremdheid kan hy nie ʼn selfoon vashou nie, maar hy het wel ʼn skootrekenaar waarop hy tik. Ons het sedert gister vir hom ʼn klomp e-posse gestuur, maar hy het nie daarop reageer nie. Ons is nie eers seker of die rekenaar by hom is nie,” het sy gesê.
Die polisie is glo ook huiwerig om in te meng, omdat hulle sê dat Warwick nie ʼn minderjarige is nie en dus sy eie besluit kan maak. “Ons dink nie dit is die geval nie. Hy is sedert sy ma se dood so deur sy pa geïntimideer en banggepraat dat ek dink hy sal uit vrees ons nie nou kontak nie,” het Immelman gesê.
Immelman het gesê dit is egter vir haar hartseer dat die bespiegeling en ondersoek rondom Odette se moord veroorsaak het dat die nagedagtenis aan haar dogter opsygeskuif is. “Dit is amper asof my dogter se nagedagtenis vergete is. Daar was so baie gesprekke oor die moord en sy [haar man] moontlike betrokkenheid, dat ons amper nie tyd gekry het om oor Odette te rou nie.”
Maroela Media weerhou die naam van Barkhuizen se man totdat hy Donderdag in die hof verskyn het.