
Die motor se wrak. Foto: ER24
ʼn Sesjarige seun is Woensdagoggend dood en ʼn man ernstig beseer toe die motor waarin hulle gery het verskeie kere in Vanderbijlpark in Gauteng gerol het.
Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê die ongeluk het in Vaalweg plaasgevind.
“Die motor het glo die pad verlaat, verskeie kere gerol, deur ʼn muur gebars en naby ʼn boom tot stilstand gekom,” Meiring gesê.
“Die seun is in die voertuig aangetref en het geen tekens van lewe getoon nie. Die man het buite die voertuig gesit en was in ʼn ernstige toestand.”
Paramedici het die seun dadelik uit die wrak gehaal en probeer om hom by te bring. Na 25 minute se noodhulp het hy weer tekens van lewe begin toon, maar hy is kort ná sy aankoms by Emfuleni Mediclinic dood verklaar.
Die man is op die toneel gestabiliseer en na dieselfde hospitaal geneem vir verdere behandeling.
Die oorsaak van die ongeluk word ondersoek.