Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Nuuskommentaar: Studenteleiers se minagting van grondwet stel teleur

$
0
0

studente

Foto: Argief

In Volksblad het die afgelope ruk “skielik” briewe van Afrikaanssprekende SR-lede, “ongeag die media-verbod op interne sessies, met vurige, eenstemmige standpunte téén Afrikaans” verskyn. Volksblad het vandag in sy hoofartikel die kwessie in oënskou geneem.

Dat die onvolwasse en maklik weerlegbare argumente in die briewe hinderlik is, is een ding, maar die feit dat SR-lede standpunte kan inneem wat geen ruimte vir moedertaalsprekers se grondwetlike regte maak nie, is ontstellend.

Byna net so ontstellend is die feit dat die een SR-lid duidelik in haar argumentering oor hoekom sy self Engels as onderrigmedium verkies, die “slegs” Engelse handboeke as ’n rede aanvoer. Dat daar ’n enorme verskil tussen studie en papegaaiwerk is, kom skynbaar nie by haar op nie.

Oor die toegang wat Afrikaans aan Afrikaanssprekendes tot Nederlandse en so ook onregstreeks Duitse bronne bied, wat nié vir die Engelse bronne hoef terug te staan nie, swyg die SR-lede ook. En wye blootstelling eerder as om ’n papegaai te wees is immers waaroor studie gaan, en die vaslegging en interpretasie van kennis sodat dit in die praktyk toegepas kan word.

Moet die grondwet en die regte wat dit bied dan maar eenvoudig in die slag bly ten koste van jeugdige naïwiteit? Hul standpunte herinner in elk geval aan ’n modegier.

Dit is jammer dat hierdie pas-bekeerdes wat nou meer “Rooms” as die pous probeer wees, nie net ’n titseltjie substansie in hul argumente kon invoer dat daar immers bietjie volwasse daaroor debatteer kan word nie.

In ’n afsonderlike artikel gesels Volksblad met die nuutverkose Kovsie-voorsitter, Lindokuhle “Lindo” Mtuli. As 23-jarige is hy nie meer so jonk nie, en as vierdejaar regstudent word darem al heelwat insigte oor die grondwet verwag. Maar dit bly helaas uit in die redes wat hy aanvoer waarom Afrikaans as onderrigtaal “sy toepaslikheid op akademiese gebied verloor”.

Die ABC van ’n grondwet en grondwetlike demokrasie is juis dat dit moet keer dat minderhede onder die diktatuur / tirannie van die meerderheid moet verval. ’n Grondwet, soos ook die Suid-Afrikaanse, bied verskanste en selfs spesiaal-verskanste regte ongeag meerderheidswil.

Dit word gerugsteun deur die grondwetlike inbinding van die internasionale reg en internasionale verdrae. Suid-Afrika is juis nou by die Internasionale Strafhof in die sop oor die Omar al-Basjir-geval, skynbaar nadat die regering baie swak regsadvies ingewin het.

Die ding van die internasionale reg is dat dit minderheidsregte, wat tersiêre onderrig in die moedertaal insluit, uitbrei en nie nek omdraai soos wat die aanslag van heethoofde, skynbaar lui dosente en naïewe meelopers hier probeer realiseer nie.

Anders gestel, by hoeveel universiteite oorsee sal ’n heethoof ’n aks met sy saak vorder as hy by inskrywing of diensaanvaarding wel deeglik kennis neem van die reglemente van die instelling, dan die betrokke kontrak sluit, net om daarna moles te maak oor daar aspekte is waarmee hy nie gelukkig is nie?

’n Paar jaar gelede het Christen-studente by Kovsies ingeskryf onder die bewoording van die leuse, In Deo Sapientiae Lux. Toe hulle egter graad kry, was dit skoonveld, en geen sprake meer van die verrigtinge wat met gebed open nie. Gaan studente nou ook onder meerderheidswil / afpersing in die middel van hul studies verneem hul kontrak met die universiteit oor onderrigmedium word eensydig gewysig? Tot hul nadeel. Tel hel met grondwetlik-verskanste regte.

Suid-Afrika moet nou gou besluit of hy ’n regstaat  wil wees waarin die oppergesag van die grondwet erken word – met al die implikasies daaraan vasgeweef, en of dit ’n anargistiese staat wil wees waar persepsies en wanpersepsies na willekeur beleid bepaal al vernietig dit verskanste regte.

En van studente op SR-vlak word ’n sinvoller omgang met die grondwet se inhoud verwag. Maar sies vir hulle soos hulle nou standpunte inneem.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!