Lt. Olebogeng Tawana, woordvoerder van die polisie, het gesê lede van die Kimberley-blitspatrollie het op ʼn huisbraak-aanmelding gereageer toe hulle ʼn verdagte bakkie op die N12 buite die dorp gesien het. “Die rooi Toyota-dubbelkajuitbakkie het dadelik weggejaag toe hulle die polisie gewaar het,” het sy gesê.
ʼn Blitsjaagtog het tussen die polisie en die verdagtes ontstaan. Die verdagtes het naderhand stilgehou en op voet gevlug. Een is in hegtenis geneem, het Tawana gesê.
“Elf batterye van selfoonseintorings is agter in die bakkie gevind en 13 batterye op die agtersitplek. Die batterye is meer as R1 miljoen werd.”
Die tweede verdagte is nog op vrye voet.