
Een van die motors se wrakke. Foto: Hartbeespoort-noodreddingseenheid.
Vyf mense, onder wie twee kinders van onderskeidelik vyf en sewe jaar oud, is dood en drie mense kritiek beseer nadat twee motors Maandagaand naby Brits in Noordwes gebots het.
Loanne Louw, woordvoerder van die Hartbeespoort-noodreddingseenheid, het Dinsdag aan Maroela Media gesê die botsing het omstreeks 18:30 op die Ou Rustenburgpad in die Bokfontein-omgewing plaasgevind.
“Die vyf mense wat dood is, was almal in dieselfde voertuig. Een persoon wat kritiek beseer is, was ook in dié voertuig. Die ander twee kritiek beseerdes het in die ander voertuig gery,” het Louw gesê.
Die beseerdes is op die toneel behandel en na hospitale in Brits geneem vir verdere behandeling.
Die oorsaak van die ongeluk is nie bekend nie en word ondersoek.

Foto: Hartbeespoort-noodreddingseenheid