WAARSKUWING: Foto’s in die berig kan sensitiewe lesers ontstel.
Buitelandse jagters het Maandag voortgegaan met die omstrede dryfjag in Alldays, Limpopo, ondanks sterk openbare teenkanting en negatiewe publisiteit rondom die praktyk.
Ainsley Hay, bestuurder van die nasionale Dierebeskermingsvereniging (DBV) se wildbeskermingseenheid, het aan Maroela Media gesê hulle kan bevestig dat 18 diere Maandag doodgeskiet is, waaronder gemsbokke, elande, wildebeeste, rooibokke, duikers en vlakvarke.
“Die DBV het ʼn lasbrief gekry om ons toegang tot die plaas te gee vir die volgende vier dae sodat ons die situasie kan monitor, maar ongelukkig is daar geen wetlike grondslag waarop ons die dryfjag kan stopsit nie,” het sy gesê. “Ons kan ons tot die hof wend wanneer iemand die wet oortree, maar dryfjag is nie onwettig nie. Daarom is ons op die plaas om die situasie dop te hou en bewyse te versamel vir moontlike regsaksie in die toekoms.”
Dryfjag behels platforms wat langs ʼn strook grond van ongeveer twee kilometer opgerig word met digte bosse weerskante. Jagters sit op die platforms terwyl ʼn groot verskeidenheid wild in die strook af gejaag word sodat die jagters hulle kan skiet. Inwoners van die gemeenskap word betaal om in ʼn reguit ry met groot metaaldromme te stap en die diere so aan te jaag. Dryfjag is tradisioneel ʼn Europese gebruik en word normaalweg nie in Suid-Afrika gedoen nie.
Hay het gesê sy vermoed die dryfjag is ’n effens afgewaterde weergawe van wat dit sou wees indien die bohaai rondom dit nie so groot was nie. “Ja, 18 diere is minder as wat ons verwag het, maar ek dink dit is ʼn meer gesuiwerde weergawe van die jag dié omdat hulle weet hulle word nou fyn dopgehou.”Burckels Napo, woordvoerder van Limpopo se departement van toerisme en omgewingsake, wou Dinsdag steeds nie kommentaar lewer nie en het gesê die departement is nog besig met sy ondersoek. “Sodra ons meer inligting oor die saak het, sal ons ʼn verklaring hieroor uitreik. Wees asseblief geduldig. Ons moet eers al die feite agtermekaar kry,” het hy gesê.

