Kol. Jay Naicker, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn 18-jarige en 19-jarige man is met behulp van die gemeenskap vasgetrek en aangekla van moord en poging tot moord.
Naicker het gesê gedurende die Durban Day-geleentheid het ʼn bakleiery tussen twee groepe jongmense uitgebreek naby die Moses Mabhida-stadion waar die geleentheid gehou is. “Die groepe het mekaar glo sleggesê toe een van die mans die slagoffer [King] in die bors gesteek het. Hy het daarna die mes laat val en gevlug, terwyl sy vriend die slagoffer geskop het,” het Naicker gesê.
‘n Vriend van King is ook in die hand gesteek. Volgens Naicker het ʼn derde persoon ook ʼn meswond opgedoen, maar die omstandighede rondom die gebeure is nog nie duidelik nie. Die derde persoon is steeds in die hospitaal. Hy het gesê dit is moontlik dat die twee verdagtes wat in hegtenis geneem is ook verantwoordelik is vir die derde persoon se meswond.
King is net ná 19:00 gesteek. ʼn Omstander het glo tevergeefs probeer om hom by te bring. Ooggetuies het gesê hulle het mense hoor skree en toe hulle nader kom, het King op die grond gelê. Sy ouers het oomblikke later by die toneel opgedaag waar hy dood is.