
Argieffoto (Foto: AfriForum)
Die burgerregte-organisasie AfriForum het gesê almal in landelike gebiede moet met hulle kinders gesels oor plaasaanvalle.
“Ons wil nie hê kinders moet bang gepraat word nie, maar hulle moet weet hoe hulle tydens ʼn aanval moet optree,” het Ian Cameron, die hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, gesê.
ʼn Kind is vanoggend tydens ʼn plaasaanval in George’s Valley, Limpopo deur die aanvallers gebruik om hulle deur die huis te begelei, terwyl sy ouers aangehou is. Klik hier om meer te lees. Hierdie was die derde plaasaanval in 48 uur.
Die verdagtes het met die slagoffers se voertuig gevlug en is deur boere tot in Polokwane gejaag, waar die SAPD op die verdagtes losgebrand het. Die verdagtes het nietemin steeds te voet gevlug.
Volgens Cameron voel plaasaanvallers niks vir slagoffers nie, dus moet kinders presies weet wat om te doen om hulself én hulle gesinslede te beskerm, omdat hulle dikwels vir onderhandeling deur die aanvallers gebruik word óf om aanvallers – soos in dié geval – te begelei.
Drie plaasaanvalle het die afgelope 48 uur in die land plaasgevind. Dié van die gesin van George’s Valley, en die volgende twee:
• Mally Thomson is Maandagoggend deur drie verdagtes met ʼn panga aangeval. Hy het ’n verdagte doodgeskiet. Die ander twee het gevlug. Richmond, KwaZulu-Natal.
• Jacobus Kemp het Sondag met ’n haelgeweer op sy aanvallers losgebrand en een doodgeskiet. Letsitele, Limpopo.