Elijah Malatji, polisiewoordvoerder, het gesê alle skole en besighede in die gebied is gesluit nadat betogings gewelddadig geraak het.
“Gisteraand [Maandag] is verskeie besighede geplunder en sommige afgebrand. Dit sluit twee hardewarewinkels in wat afgebrand is, twee kroeë wat deur betogers bestorm is en waar drank geplunder is, asook ʼn slaghuis,” het Malatji gesê. “’n 29-jarige man is in hegtenis geneem nadat hy van die gesteelde drank weggedra het.”
Hy het ook gesê dat daar geen openbare vervoer in of uit die gebied is nie aangesien die paaie heeltemal met bande en klippe afgesper is.
Die polisie het Maandag rubberkoeëls afgevuur om die skare uiteen te jaag wat geëis het dat pres. Jacob Zuma ingryp en toegee aan hul eis dat hulle nie in die Malamulele-munisipaliteit ingesluit word nie. Die munisipale afbakeningsraad (MCB) het in Julie aangekondig dat Malamulele sy eie munisipaliteit, bekend as die Malamulele-Vuwani-munisipaliteit, sal kry. Die raad het besluit om Vuwani by hierdie munisipaliteit in te sluit.
Dit volg nadat Malamulele-inwoners al jare lank betoog en eis dat hulle van die Thulamela-munisipaliteit geskei word. Hulle wil egter nie deel van Malamulele se munisipaliteit wees nie, aangesien dit volgens hulle diensverskaffing in die gebied sal vertraag. Die inwoners eis dat Vuwani onder die Makhado-munisipaliteit val.