Om enige moontlikheid van ’n misverstand uit die weg te ruim oor die minister se reaksie word sy presiese twiet weergegee: “How is it that Newspapers allow such racism to be published? Zapiro equates Transformation to failure. Insulting.”
Mbalula beskuldig dus Shapiro en Times Live van rassisme, en dit, so het baie Suid-Afrikaners onlangs agtergekom, word as ’n ernstige, onvergeeflike sonde beskou.
Maar sit die skoen nie dalk aan die ander voet nie? In wese impliseer Mbalula dat transformasie, anders as wat die bedoeling was, eintlik maar net oor ras handel. Kritiek op transformasie, ongeag of dit ontspoorde transformasie is, is dan rassisme.
Nou wie is dan nou eintlik rasbenepe? Dui kritiek op hierdie rasgebaseerde transformasie (as dit ooit Shapiro se bedoeling was) nie juis as ’n bewys dat Shapiro die saak nierassig bekyk nie?
Ja, die sinnetjie hierbo is vreeslik politiek inkorrek, maar soos die vuurvreter Rhoda Kadalie eens in ’n rubriek geskryf het, politieke korrektheid is die diktatuur van die liberalis.
Natuurlik is dit ook ’n groot vereenvoudiging – Mbalula is deel van die ANC en die ANC kry erge kritiek, ook uit die geledere van die Advokate vir Transformasie, dat die regering ’n bespotting van die onlangse konstitusionele hof se uitspraak maak dat pres. Jacob Zuma en die parlement ongrondwetlik opgetree het. Die ANC en Zuma kan dus nie eens suksesvol lippediens aan ’n liberale regeringstelsel lewer nie, laat staan nog liberaal wees.
Maar deur die skep van ’n wye netwerk van taboes word ’n beergreep verkry op die uitleef van gewone demokratiese waardes. En rassisme staan sentraal hierin … die speelruimte waarin swart mense rasbenepe uitlatings kan maak sonder dat dit rassisme is, is veel groter as dit wat ’n wit mens kan sê.
En dit is mos dan self rassisties.
Wanneer transformasie met rassekwotas gelykgestel word, is daar vanselfsprekend ’n vorm van rasbenepenheid in. Of dit noodwendig teenoor sukses staan, is ’n kwessie van debat, maar as iets verswak word omdat keurders en afrigters ter wille van raskwotas gedwing word om nie hul beste spelers te kies nie, is die sterkste moontlike span nie gekies nie. Sukses gaan moeiliker kom.
Krieket SA het die land se bedryfsregspanne tot kwotas gedwing wat vereis dat die meerderheid spelers niewit moet wees, en die meerderheid ook “etnies swart” moet wees. Daar is nou ’n redelik algemene konsensus dat dit die standaard van bedryfsreg- en provinsiale krieket so verswak het dat dit nou, in die woorde van ’n oud-Springbok, swakker is as klubkrieket in die “ou dae”. En as die stelsel nie meer die beste spelers onder die mees mededingende omstandighede lewer nie, verswak dit die nasionale span. Dit moet verander word. Proteaspelers wat vorm verloor en na hul unies teruggestuur word om vorm te herwin, blink dikwels vreeslik uit, maar sukkel maar weer wanneer die Proteas hulle nader trek.
Intussen word periodiek na die suksesse van swart en bruin spelers in die Proteaspan verwys as bewyse van suksesvolle transformasie. Daar word egter verswyg dat Herchelle Gibbs die produk van Bishops in Kaapstad was, en Kagiso Rababa byvoorbeeld van St Stithians in Johannesburg – kwalik agtergeblewe skole, en beslis nie komende uit agtergeblewe gesinne nie. Temba Bavuma het in Sandton matriek behaal.
Dit beteken nie dat die kwotastel nie ook suksesse opgelewer het nie, maar of dit kan opweeg teen die skade wat dit aangerig het, en die feit dat dit as rasgebaseer die reëls van bykans elke internasionale sportliggaam skend, is te betwyfel.
’n Mens hoef net na die toedrag van sportgeriewe, indien dit enigsins bestaan, by township- en plaasskole te let, saam met baie onderwysers se onwilligheid om “na-ure” sport af te rig, om te besef waar die probleem van verteenwoordiging aangepak moet word. Hier het die minister en die regering ’n reuse-verantwoordelikheid.
Aangebore sporttalent speel bepaald ook ’n rol, soos blyk uit die onderverteenwoordiging van wit mense in middelafstand-pad- en -veldwedlope. Ook in die VSA neig wit en swart deelnemers om op nasionale vlak in verskillende van die groot sportsoorte uit te blink.
Dat die woord “transformasie” nie juridies rasbenepenheid die groen lig gee nie, blyk uit die hofsaak wat Solidariteit gister namens ’n lid teen die Tshwane Metroraad gewen het. Die persoon moet nou bevorder, en terugwerkend vergoed word. Op dieselfde dag het ’n brief aan die lig gekom waarin alle bevorderings van wit en bruin polisiebeamptes in sekere range in die Wes-Kaap weens kwotateikens gestuit word. Solidariteit het skerp gereageer.
Slegs Zuma kan vir Mbalula die verdiende rooi kaart gee, maar dit sal hy so nooit as te nimmer doen nie, want hy staan self lekker agter die deur.