ʼn Verpleegster en ma van vyf kinders is na bewering Donderdag deur ʼn geestesversteurde pasiënt by ʼn hospitaal in Limpopo verwurg.
Derick Kganyago, woordvoerder van die provinsie se departement van gesondheid, het Vrydag gesê die aanval het by die gevangenesaal van die Hayani Psigiatrie-hospitaal in Thohoyandou plaasgevind.
“Die 52-jarige verpleegster was aan diens en besig met haar roetinewerk toe sy van agter af aangeval en verwurg is. Die skokkende voorval is op kringtelevisie afgeneem en wys die verpleegster het vinnig gesterf,” het Kganyago gesê.
Kganyago het gesê die departement is bekommerd oor die vlaag van geweld in psigiatrie-eenhede.
Thothi Mathuba, LUR van gesondheid, het gesê ʼn ondersoekspan wat uit psigiatriekenners en deskundiges van korrektiewe dienste bestaan, is saamgestel om die voorval te ondersoek. Die kenners sal ook raad gee oor hoe om sulke pasiënte te hanteer.