
Boeta van der Westhuizen (links), Johan Cilliers sr., Johan Cilliers jr. en Anton Loggenberg tydens ‘n vorige hofverskyning. Foto: Mariné Jacobs
Maroela Media het van ’n betroubare bron verneem dat die 19-jarige man Donderdagmiddag in hegtenis geneem is. Sy naam mag volgens wet nie bekendgemaak word voordat hy in die hof verskyn het nie. Dit is intussen nie duidelik of hy Vrydagoggend saam met die ander sewe beskuldigdes, kapt. Henk Prinsloo, Boeta van der Westhuizen, Anton Loggenberg, Johan Cilliers sr. en sy seun, Johan Cilliers jr., Wian van der Westhuizen en Fanie Oosthuizen, in die Parys-landdroshof sal verskyn nie.
Die polisie was reeds van vroeg Vrydagoggend op ʼn hoë gereedheidsgrondslag en roldraad is weereens voor die hof gespan. Verskillende politieke en ander groepe betogers word voor die hof verwag.
Die staat beweer dat die beskuldigdes verantwoordelik was vir die aanranding en moorde van Samuel Tjixa en Simon Jubeba. Tjixa en Jubeba was na bewering op 6 Januarie betrokke by ʼn plaasaanval in die gebied. Hulle het na bewering van die toneel gevlug en die boer het alarm gemaak.
Kort daarna het ʼn groep boere die twee vermeende aanvallers op die plaas vasgetrek en die polisie is ontbied. Die staat beweer Prinsloo was een van die eerste polisielede op die toneel en het glo die boere gehelp om Tjixa en Jubeba aan te rand.
Lees alle vorige berigte oor die Parys-boere op Maroela Media.