Die beskuldigdes, kapt. Henk Prinsloo, Boeta van der Westhuizen, Anton Loggenberg, Johan Cilliers sr. en sy seun, Johan Cilliers jr., Wian van der Westhuizen en Fanie Oosthuizen sal na verwagting almal in die hof verskyn. Hulle is almal vroeër op borgtog vrygelaat.
Die polisie was reeds van vroeg Vrydagoggend op ʼn hoë gereedheidsgrondslag en roldraad is weereens voor die hof gespan. Verskillende politieke en ander groepe betogers word voor die hof verwag, maar teen 08:00 was dit nog stil.
Die staat beweer dat die beskuldigdes verantwoordelik was vir die aanranding en moorde van Samuel Tjixa en Simon Jubeba. Tjixa en Jubeba was na bewering op 6 Januarie betrokke by ʼn plaasaanval in die gebied. Hulle het na bewering van die toneel gevlug en die boer het alarm gemaak.
Kort daarna het ʼn groep boere die twee vermeende aanvallers op die plaas vasgetrek en die polisie is ontbied. Die staat beweer Prinsloo was een van die eerste polisielede op die toneel en het glo die boere gehelp om Tjixa en Jubeba aan te rand.
Ao. Isaac Tshabalala, die voormalige ondersoekbeampte, het voorheen in die hof getuig toe hy op die toneel opdaag, was Tjixa en Jubeba erg aangerand, hul gesigte was geswel en een het “krapmerke oor sy gesig gehad asof hy gesleep was”. Die twee mans is na ʼn hospitaal gebring waar hulle later aan hul beserings beswyk het.
Zenzile Megadlele, ʼn woordvoerder van die ANC, het tydens ʼn vorige hofverskyning aan Maroela Media gesê die oorledenes was nie plaasaanvallers nie, maar onskuldige plaaswerkers wat vermoor is toe hulle hul lone by die plaas gaan haal het.
Lees alle vorige berigte oor die Parys-boere op Maroela Media.