Böhmermann, ʼn bekende komediant in Duitsland, het in sy ZDF-televisieprogram, Neo Magazin Royale, ʼn gedig voorgelees wat veral pres. Recep Tayyip Erdogan se hantering van Koerde en Christene kritiseer.
Net voor die gedig voorgelees is, het Böhmermann die Duitsers herinner aan die vorige “skandaal” – ʼn musiekvideo waarin die spot gedryf word met Erdogan se hantering van joernaliste.
Die Turkse vise-premier, Numan Kurtulmuş, voer aan Böhmermann se gedig het “al 78 miljoen Turke beledig en dit is ʼn misdaad teen die mensdom”.
Dié konflik plaas die Duitse kanselier Angela Merkel onder meer druk: Turkye se hulp met die vlugtelinge is belangrik, maar vryheid van spraak in Duitsland is ewe belangrik. Merkel is self in die spervuur nadat sy glo vir Erdogan gesê het die gedig is opsetlik beledigend.
In Turkye is daar ʼn wet wat dit verbied om die president te beledig. In die afgelope twee jaar is 1 845 sake teen Turkse burgers aanhangig gemaak ingevolge dié wet. Veral joernaliste kry swaar. Die pro-Erdogan-nuusblad Sabah beweer Böhmermann se gedig wys duidelik hoe groot die Duitse haat teen die Turke is.
Die afgelope naweek het ʼn groep mense die ZDF-kantore in Istanbul met eiers gegooi in protes teen Böhmermann se gedig.
Böhmermann is tans onder polisiebewaking weens die kriminele klag en vryheid van spraak is weer opnuut in Duitsland onder bespreking. Intussen probeer die Duitse regbank vasstel of Böhmermann met sy kritiek op politieke leiers die wet sou oortree het.
Griekeland se minister van finansies, Yanis Varoufakis, wat self ʼn paar keer lelik onder Böhmermann se grappe deurgeloop het, het só gereageer: “Eers verloor Europa haar siel, nou verloor sy haar humor”.