Lt. Luvuyo Mjekula, woordvoerder van die polisie, het gesê die polisie het inligting ontvang dat vier verdagtes beplan het om Maandagaand op ʼn plaas in die omgewing toe te slaan. Misdaadintelligensiebeamptes, speurders, lede van die K9-eenheid en die hoof van die plaaslike landbouveiligheidwag, het saamgewerk om ʼn lokval vir die verdagtes te stel.
Die aand omstreeks 22:00 het die polisie ʼn motor naby die plaas voorgekeer en deursoek. ʼn Man en driejarige kind was in die motor en die man het aan die polisie gesê dat hy drie mans by die plaas afgelaai het. Hy het beweer hy weet nie hoekom die mans na die plaas wou gaan nie. Die kind in die motor is na sy ma toe geneem en die man is ingeneem vir ondervraging.
Volgens Mjekula kon die polisie egter nie die man met die beplande plaasaanval verbind nie en hy is later weer vrygelaat.
“In die vroeë oggendure het die polisie nóg inligting ontvang oor die beplande aanval en ʼn padblokkade is op die hoek van Bathurst- en Standerwickstraat opgestel. Omstreeks 05:00 het dieselfde voertuig waarin die man en kind was nadergekom en die polisie het die voertuig probeer voorkeer,” het hy vertel.
Die insittendes het op die polisie losgebrand en die polisie het teruggeskiet. Mjekula het gesê een van die verdagtes in die voertuig is in die skouer gewond, maar geen van die polisiebeamptes is beseer nie. Die beseerde verdagte is onder polisiebewaking na die hospitaal geneem en die ander drie verdagtes is in hegtenis geneem. “Een van die verdagtes is dieselfde man wat die polisie vroeër die aand ondervra het,” het Mjekula gesê.
Die polisie het beslag gelê op ʼn 9 mm-vuurwapen en patrone in die motor. Die verdagtes sal tereg staan op poging tot moord en die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie.
Mjekula het aan Maroela Media bevestig dat die verdagtes ook met ʼn vroeëre misdaad verbind word, waartydens ʼn voertuig verlede naweek in Peddie gekaap en die bestuurder doodgeskiet is.