Die Rustenburg-polisie doen ʼn beroep op die publiek om met inligting na vore te kom nadat ʼn 70-jarige vrou glo Maandag buite ʼn huis in dié Noordwes-dorp deur vier gewapende mans oorval is.
Sers. Kelebogile Moleko, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê die slagoffer is ʼn huishulp wat omstreeks 11:00 by haar werkgewer se huis in Klopperstraat oorval is.
“Die vrou was buite die huis doenig toe vier mans haar genader het. Hulle het haar in die huis ingedwing, haar hande met ʼn tou vasgebind, ʼn lap in haar mond gedruk en die huis geplunder,” het Moleko gesê. Die mans het met ʼn skootrekenaar, tabletrekenaar en juwele van die toneel gevlug.
Niemand anders was tydens die voorval by die huis nie.
Die polisie ondersoek ʼn saak van huisroof. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Mense met inligting oor die voorval wat die polisie in hul ondersoek kan bystaan, word versoek om ao. Tlou by 082 856 1326 te bel.