Zwelinzima Vavi, as deel van ‘n splintergroep van Cosatu, het Dinsdag tydens ‘n perskonferensie die moontlikheid van ʼn nuwe vakbondfederasie bekend gemaak.
Ongeveer 3 000 afgevaardigdes, wat 40 vakbonde verteenwoordig, sal op 30 April tydens ‘n Werkersberaad vergader om dié nuwe vakbondfederasie te bespreek, het Vavi aan verslaggewers in Johannesburg gesê.
Die vakbond Solidariteit, wat ook die konferensie bygewoon het, het intussen sy voorwaardelike steun aan dié federasie toegesê. Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, het gesê ten spyte van diepliggende ideologiese verskille wat beteken dat Solidariteit nie by die federasie sal aansluit nie, steun Solidariteit die federasie in soverre die federasie prominente vakbonde, kleiner federasies, onverbonde vakbonde en splintervakbonde onder een liggaam saamsnoer, om veldtogte meer effektief aan te pak. Die federasie wil hom sodoende onder meer daarvoor beywer om die afleggingsbloedbad af te weer.
“Ten spyte van Solidariteit se onverbonde benadering, sal die vakbond graag saam met Cosatu en die nuwe federasie aan gesamentlike veldtogte deelneem teen byvoorbeeld korrupsie, e-tol, hoë elektrisiteitstariewe en swak regering, want dit is die tipe aangeleenthede wat werk vernietig,” het Du Plessis gesê.