Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Breyten se ope brief aan US rektor

$
0
0
Breyten Breytenbach Foto: GelykeKanse.com

Breyten Breytenbach Foto: GelykeKanse.com

Die alombekende digter en taalregteaktivis, Breyten Breytenbach, het die afgelope naweek ʼn ope brief aan die rektor van die Universiteit Stellenbosch (US) gerig wat betref die universiteit se taalbeleid.

“Dis ’n kwade dag wanneer daar in die openbaar gepleit moet word vir die erkenning en versterking van diversiteit en vir die effektiewe behoud van veelvuldigheid as onderskraging van die gedeelde, oorkoepelende waardes waarop Suid-Afrika se Grondwet berus,” begin Breytenbach in dié brief aan prof. Wim de Villiers.

“Veeltaligheid is ’n voorreg en ’n kans. Trouens, die US behoort die leidende rol te kan neem in die ontwikkeling en bevordering van ander inheemse tale, en om mee te begin die tale wat in die streek aanwesig is en gebruik word en waarvoor daar praktiese behoeftes bestaan… Geagte professor, u voorgestelde taalbeleid is die dood in die pot vir meertaligheid.” Lees die volledige ope brief.

Breytenbach skaar hom ook by vele ander bekendes uit ’n verskeidenheid sektore wat sopas ’n inisiatief van stapel gestuur het om te verseker dat Afrikaans in die toekoms ’n volwaardige onderrigtaal aan die Universiteit van Stellenbosch sal bly.

“Die groep belanghebbendes onder die benaming, Gelyke Kanse, volg nadat aan die lig gekom het dat daar reeds geruime tyd in die praktyk afgewyk word van die US se taalbeleid wat, breedweg, gelykberegtiging tussen Afrikaans en Engels as primêre tale van onderrig verg,” het Danie Rossouw, ’n prokureur wat ook as koördineerder van die inisiatief dien, gesê.

“Teen die einde van 2015 het die rektor van die universiteit en lede van sy bestuurspan ’n nuwe taalbeleid voorgestel wat bepaal dat Engels die primêre taal van onderrig sou word en wat in 2016 geïmplementeer moes word,” verduidelik Rossouw. “Hierdie poging om die afwykende praktyk te wettig het plaasgevind nieteenstaande die feit dat die raad van die US verantwoordelik is vir formulering van die taalbeleid. Ten spyte van die feit dat die raad die rektor en lede van sy bestuurspan gerepudieer het, het laasgenoemde nogtans toegesien dat hulle voorstelle sedert die aanvang van die 2016 akademiese jaar ingestel word.”

Rossouw voeg by dit het tot hofsake aanleiding gegee om die US te verplig om sy taalbeleid te implementeer, wat op sy beurt tot gevolg gehad het dat die raad ’n besluit, wat die voorsitter later erken het onwettig is, aanvaar het in ’n poging om grootskaalse afwykings van die taalbeleid te probeer wettig.

“Die Wes-Kaapse hooggeregshof het skaars ’n tussentydse bevel uitgereik dat die US sy taalbeleid moes implementeer of die bestuur kondig ’n voorgestelde nuwe taalbeleid aan – sonder dat dit deur die raad geïnisieer is en sonder dat die raad se nuut-ingestelde taalkomitee daaroor geraadpleeg is,” het hy gesê. “Dit is weer eens in ’n poging om die de facto situasie te institusionaliseer, wat gekenmerk word daardeur dat Engels die primêre taal van onderrig is en dat daar van gelykwaardigheid tussen Afrikaans en Engels as onderrigtale geen sprake is nie. Intussen, is daar ook ’n regterlike ondersoek na afwykings van die taalbeleid aan die gang, wat deur die raad gelas is.”

Die mede-stigters van die Gelyke Kanse inisiatief bestaan uit talle prominente figure uit verskeie sektore. Hulle is, benewens Breytenbach, proff. Herman Giliomee, Flip Smit, Christo Viljoen, Braam de Vries, adv. Jan Heunis, en Ebbe Dommisse. Hierdie persone het ook ’n beswaarskrif verwoord wat die besware teen die voorgestelde nuwe taalbeleid van ’n groep belanghebbendes wat ’n gelyke kans vir Afrikaans aan die US bepleit en ook hul voorstelle vir ’n toelatings- en taalbeleid wat sal verseker dat Afrikaans in die toekoms ’n volwaardige onderrigtaal aan die US sal wees.

Talle prominente figure uit verskillende sektore van die Afrikaanse en ander Afrikatale-omgewing, ondersteun reeds die Gelyke Kanse Inisiatief. Hulle is onder andere Dominique Enthoven, Rhoda Kadalie, John Miles, Danie Marais, prof. Sonja Loots en vele meer.

“Dit is nou die tyd om moedig, kreatief, vindingryk, onbevooroordeeld en inklusief te wees,” moedig Breytenbach die publiek aan om ook deel van die inisiatief te vorm.

Rossouw verduidelik die US-bestuur versoek kommentaar en besware teen die nuwe taalbeleid teen 22 April. “Die Gelyke Kanse-inisiatief sal teen daardie datum soveel as moontlik belangstellendes op hul lys wil hê,” het hy gesê.

Besoek Gelyke Kanse se webwerf
Besoek die Facebook-blad
Besoek die Twitter-profiel
Besoek die Instagram-rekening


Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!