ʼn Man, in sy 40’s, het homself Dinsdag by die Villieria-polisiestasie oorgegee in verband met die moord op Danie Dreyer (64).
“Die man, van Eersterust, het homself omstreeks 15:30 aan die polisie oorgegee,” het kapt. Colette Weilbach, woordvoerder van die polisie, aan Maroela Media gesê. “Hy sal na verwagting Donderdag in die Pretoriase landdroshof verskyn op aanklag van moord.”
Maroela Media het vroeër berig drie verdagtes moet in die Pretoriase landdroshof verskyn in verband met die moord op Dreyer.
Dreyer, ʼn voormalige luitenant-kolonel in die SAPD en eienaar van Jakaranda Grafstene, se liggaam is op 4 April in ʼn mangat in die Moot-omgewing aangetref nadat Estelle Reddy (36) haar aan die polisie oorgegee en Dreyer se dood aangemeld het.
Dreyer is vermoedelik op 28 Maart tydens ʼn geskil oor geld vermoor.
Reddy en haar vriend, Gerhardus Pienaar Papenfus (41), is kort daarna op aanklag van moord in hegtenis geneem. Kevin Johnson (29) is op 6 April ook in verband met die moord in hegtenis geneem.
Lees alle vorige berigte oor die Villieria-moord op Maroela Media.