Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Verdagtes met ses gesteelde jaggewere betrap

$
0
0
Die jaggewere wat teruggevind is. Foto: SAPD

Die jaggewere wat teruggevind is. Foto: SAPD

Die Limpopo-polisie het op drie verdagtes toegeslaan en beslag gelê op ses hoë kaliber jaggewere wat onlangs op ʼn plaas naby Modimolle (Nylstroom) gesteel is.

Kol. Ronel Otto, provinsiale polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê die sukses volg ná ʼn gesamentlike intelligensie-gedrewe optrede deur lede van die taktiese reaksie-eenheid en speurders van die Modimolle-polisie. Die verdagtes is Maandagaand by hul onderskeie blyplekke in die Modimolle-omgewing in hegtenis geneem.

“Die eienaar van die jaggewere is ʼn toegewyde jagter en al die wapens is gelisensieer. Die gewere en ammunisie is sowat tien dae gelede tydens ʼn huisbraak op ʼn plaas gesteel. Die eienaar van die plaas was nie tydens die voorval tuis nie,” het Otto gesê.

Die verdagtes het toegang tot die eienaar se kluis gekry deur dit met ʼn hoekslyper oop te sny. Altesaam sewe vuurwapens en 121 verskillende soorte patrone is gesteel.

Die polisie het ook beslag gelê op ʼn voertuig wat die verdagtes tydens die huisbraak gebruik het.

Meer inhegtenisnemings word verwag. Die soektog na die sewende vuurwapen duur voort.

“Die moontlikheid word ondersoek of die verdagtes verbind kan word met verskeie ander misdade in die omgewing en in die provinsie. Ballistiese toeste word ook gedoen om te bepaal of die vuurwapens miskien gebruik kon word in ander misdrywe sedert dit gesteel is,” het Otto bygevoeg.

Die verdagtes sal na verwagting Woensdag in die Modimolle-landdroshof verskyn op aanklagte van die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.

Genl.maj. Nonhlanhla Zulu, waarnemende provinsiale polisiekommissaris, het die beamptes geloof vir hul goeie werk, geduld en toewyding wat tot die inhegtenisnemings gelei het.

“Die gesteelde vuurwapens kon ʼn groot bedreiging vir die veiligheid van die gemeenskap ingehou het as die verdagtes nie aangekeer is nie. Dit kon selfs vir die stropery van renosters of olifante gebruik geword het,” het Zulu gesê.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621