Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Kommer oor ‘polisiebetrokkenheid’ by plaasaanvalle

$
0
0

Foto: SAPD, Facebook

Foto: SAPD, Facebook

Vrystaat Landbou (VL) het sy kommer uitgespreek oor die moontlike betrokkenheid van polisiebeamptes by plaasaanvalle nadat vier mans wat hulle as polisiebeamptes voorgedoen het Vrydagaand betrokke was by ʼn aanval op ʼn plaas in die Bothaville-distrik.

Tommy Esterhuyse, voorsitter van VL se komitee vir wet en orde, het in ʼn verklaring gesê die aanval laat die vraag ontstaan of daar wel sekere polisiebeamptes betrokke is by die uitvoering van plaasaanvalle of ernstige geweldsmisdade op landbougrond, wat moontlik ook uit ander provinsies bedryf word. “Wat uiters kommerwekkend is, is dat hierdie ernstige geweldsmisdaadvoorvalle waarby polisiebeamptes na bewering betrokke is, die wedersydse vertroue tussen die polisie en landbouers nadelig kan beïnvloed. Sodanige voorvalle skaad ook verdere vertroue wat noodsaaklik is om vennootskappe tussen landbouers en die polisie te vestig,” het hy gesê.

Volgens Esterhuyse moet plaasbewoners bewus wees van die “plaasprotokol” waarvolgens toegang tot plase tussen georganiseerde landbou en die polisie op die hoogste vlak beding is. “Dit beteken dat polisiebeamptes veronderstel is om voordat hulle plase besoek, eers met die eienaars kontak te maak, anders kan enige persoon wat in polisieuniform geklee is onder ʼn valse voorwendsel as ʼn dienaar van die gereg landbouers mislei om toegang tot plase te bekom om sodoende ernstige geweldsmisdade en algemene kriminaliteit te pleeg,” het hy gesê.

Vier verdagtes het die plaas Oorwin Vrydag omstreeks 19:15 besoek en hulself as polisiebeamptes voorgedoen. Kapt. Stephen Thakeng, woordvoerder van die polisie, het gesê die verdagtes het polisiehemde en pette aangehad en een van die verdagtes het ʼn polisiebaadjie met glimstroke aangehad. Hulle het glo voorgegee dat hulle die huis vir dwelms wil deursoek en die drie vroue wat in die huis woon het die honde toegemaak sodat die “polisebeamptes” kon inkom.

“Die oomblik toe die verdagtes in die huis was, het hulle die vroue en twee kinders met vuurwapens gedreig om kontant aan hulle te oorhandig. Hulle het gedreig om die vierjarige kind op ʼn warm stoof te brand indien daar nie aan hul eise voldoen word nie,” het Thakeng gesê.

Die verdagtes het met ʼn vuurwapen, ʼn onbevestigde bedrag kontant en drie selfone gevlug. Paballo William Molaudi (26) is ʼn paar uur later in die buitewyke van Orkney in hegtenis geneem. Die polisiebaadjie, vuurwapen, twee selfone en kontant is in sy besit gevind. Molaudi het Maandag in die hof verskyn op aanklagte van gewapende roof en die voordoen van ʼn polisiebeampte. Die saak is uitgestel.

Thakeng het bevestig dat ʼn tweede verdagte Maandag deur die polisie ingeneem is vir ondervraging. Hy het gesê dit is nog nie duidelik of enige van die verdagtes wel polisiebeamptes was nie. Hy kon ook nie duidelikheid verskaf oor hoe die verdagtes die polisieuniforms in die hande gekry het nie en het gesê dit sal deel vorm van die ondersoek.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!