Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het Dinsdag in ʼn verklaring gesê 1 384 254 nuwe kiesers is tydens die afgelope registrasienaweke by die kiesersrol gevoeg, terwyl 2 253 645 kiesers herregistreer het in ʼn verskillende verkiesingsdistrik. Altesaam 3 040 835 kiesers het herregistreer in dieselfde verkiesingdistrik.
Meer as 6,6 miljoen kiesers het dus kiesstasies tydens die twee registrasienaweke besoek, meer as dubbel soveel as tydens die munisipale verkiesing in 2011. “Die totale hoeveelheid geregistreerde kiesers op die kieserslys is 26 296 601, ongeveer 77% van die bevolking wat geregtig is om te stem,” het die OVK gesê.
“Die OVK is baie dankbaar dat ons jeug so positief gereageer het op ons beroep om te kom registreer. Byna 80% van die kiesers wat vir die eerste keer geregistreer het om te stem, is onder 30 jaar. Net meer as 52% van die nuwe kiesers is vroue en 47,46% is mans.”
Die OVK het gesê KwaZulu-Natal het weer eens die meeste registrasies gehad en meer as 1,1 miljoen besoeke is by dié provinsie se kiesstasies aangeteken. Gauteng was in die tweede plek met 696 252 registrasies en dan die Oos-Kaap met 512 655 registrasies.
Kiesers wat nie tydens die registrasienaweke geregistreer het nie, kan nog totdat die amptelike verkiesingdatum in die Staatskoerant gepubliseer en deur die tersaaklike minister aangekondig is, by hul naaste OVK-kantoor registreer deur slegs hul ID saam te neem.