Drie verdagtes sal na verwagting Dinsdag in die Pretoriase landdroshof verskyn weens die moord op Danie Dreyer (64) wie se liggaam onlangs in ʼn mangat in die stad gevind is.
Dreyer, ʼn voormalige luitenant-kolonel in die SAPD en eienaar van Jakaranda Grafstene, se liggaam is verlede Maandagaand in ʼn mangat in die Moot-omgewing aangetref nadat sy voormalige 36-jarige vriendin haar aan die polisie oorgegee het. Kapt. Colette Weilbach, polisiewoordvoerder, het vroeër aan Maroela Media gesê die vrou het haar by die Villieria-polisiestasie oorgegee en Dreyer se dood aangemeld.
“Sy het die polisie na die man [Dreyer], haar voormalige kêrel, se huis in Villieria geneem waar hy vermoedelik op 28 Maart tydens ʼn geskil oor geld vermoor is,” het Weilbach gesê. “Sy het daarna ʼn adres in Capital Park uitgewys waar sy glo met die hulp van ʼn vriend en twee ander mans die slagoffer se liggaam in ʼn mangat gestort het.”
Weilbach het gesê die vrou, Estelle Reddy, en haar 41-jarige vriend, Gerhardus Pienaar Papenfus, is kort daarna op aanklag van moord in hegtenis geneem. Hulle het verlede week hul eerste hofverskyning gemaak, waarna uitstel gevra is vir verdere ondersoek. Hulle sal na verwagting Dinsdag om borgtog aansoek doen.
Een van die ander twee mans wat moontlik met die voorval verbind kan word, is Woensdag om 01:00 by ʼn huis in Eersterust in hegtenis geneem. Die verdagte, Kevin Johnson (29), het kort daarna ook in die hof verskyn en daar is versoek dat hy saam met Reddy en Papenfus verskyn.
Die vierde verdagte is nog soek.