Drie mans is van ʼn verlate eiland gered met ʼn reddingspoging wat herinner aan ʼn toneel uit ʼn Hollywood-rolprent.
Die drie mans is Dinsdag as vermis aangemeld nadat hul boot nie op die Mikronesiese eiland, Weno, opgedaag het nie. Die mans is egter Vrydag gevind nadat ʼn vliegtuig van die Amerikaanse vloot die woorde ‘HELP’ op die strand van die eiland Fanadik opgemerk het.
Die eiland, wat ook deel is van die eilandstaat Mikronesië, is onbewoon. Die drie mans het die woord ‘HELP’ met palmboomblare op die strand uitgespel. Die vliegtuig het by nadere ondersoek die drie mans in oranje-reddingsbaadjies op die strand opgemerk.
Volgens berigte het die mans geen ernstige beserings opgedoen nie.