Ouers kon Maandag vir die eerste keer hul inligting op die webtuiste laai en sou dan van volgende week af amptelik by skole kon registreer op die stelsel. Volgens Oupa Bodibe, woordvoerder van die departement, is die aanlynaansoeke tot Woensdag opgeskort, weens onvoorsiene tegniese uitdagings.
“Die departement gee tans aandag aan die tegniese uitdagings om te verseker die webtuiste is teen Woensdag weer aan die gang. Die departement vra mense om geduldig te wees terwyl ons die tegniese uitdagings probeer uitsorteer,” het Bodibe gesê.
Maroela Media het vroeër Maandag berig ouers kan vandeesweek slegs hul inligting op die stelsel laai en sodoende registreer om die stelsel te gebruik. “Die amptelike registrasie by die skool self, word eers volgende Maandag gedoen. Die toustaanstelsel word eers dan in werking gestel. Mense sal egter nie kan registreer as hulle teen dan nog nie hul persoonlike inligting gelaai het nie,” het Bodibe verduidelik.
Die nuwe stelsel is Maandag van stapel gestuur om aansoekprobleme met registrasie vir 2017 te probeer verhoed, nadat leerders weens laat aansoeke nie vanjaar plek in sommige skole kon kry nie. Die registrasieproses is gerig op gr. 1 en gr. 8-leerders by staatskole.
Die aanlynregistrasie kan by www.gdeadmissions.gov.za gedoen word. Registrasie vind in drie fases plaas en die sluitingsdatum is op 7 September.
Ouers of voogde wat nie toegang tot die internet het nie, kan 0800 000 789 bel om te hoor waar hul naaste hulpsentrums is om te registreer.