Pieter en Nicole Meyer, albei 21 jaar oud, het hul babadogtertjie, Hayley, op 14 Julie verwag, maar sy is onverwags op 4 April met ʼn noodkeisersnee gebore. “Weens komplikasies het die vrugwater oor die twee weke voor Hayley se geboorte bietjie-bietjie gelek, maar ons het dit natuurlik nie geweet nie. Teen die Vrydag voor haar geboorte was Nicole reeds besig om te ontsluit, maar ons het steeds nie besef sy was reeds besig om in kraam te gaan nie. Sy het net gesê dat sy bietjie pyn ervaar,” het Pieter gesê.
“Teen die Maandagoggend was sy in erge pyn en ons is dadelik na die ginekoloog toe sodat hy kon uitpluis wat fout is.” Teen hierdie tyd het die baba reeds gedraai, gereed om gebore te word. Haar hartklop was baie swak. Volgens Pieter het die ginekoloog gesê indien ʼn noodkeisersnee nie onmiddellik gedoen word nie, die baba binne die volgende paar uur sou sterf. Klein Hayley is daardie aand om 19:00 in die Netcare Clinton-hospitaal in die lewe gebring, skaars swaarder as ʼn blok botter.
Pieter vertel dat sy in die eerste week van haar lewe boonop nog gewig verloor het en nou net 550 gram weeg, maar dat sy ongetwyfeld ʼn wonderwerk is. “Sy is vandag een week oud en die dokters sê self hulle het nog nooit so iets gesien nie,” sê hy. “Sy is nie in ʼn broeikas nie, maar word wel in die neonatale-waakeenheid behandel. Sy het van haar geboorte tot Donderdag suurstofondersteuning gekry, maar oor die naweek heeltemal op haar eie asemgehaal,” het hy gesê.
“Vanoggend [Maandag] moes hulle haar weer terugsit op suurstof om haar klein lyfie net kans te gee om ʼn bietjie te rus. Maar dat ʼn baba wat op 25 weke gebore is sommer binne die eerste week op haar eie kan asemhaal, is ongelooflik! Sy is ʼn wonderwerk.”
Hy vertel dat sy elke dag ʼn klein bietjie sterker word, dat haar niere funksioneer soos dit moet en dat haar suikervlakke nou stabiel is. Hayley ontvang net 1 ml melk per voeding en is nog te klein om opgetel word. “Ek het haar al een keer vir ʼn paar sekondes vasgehou en Nicole seker vir so tien minute, maar die dokters sê dat sy eerder nou so min aanraking as moontlik moet kry omdat sy nie te veel gestimuleer moet word terwyl haar lyfie dit nog nie kan hanteer nie.”
Volgens Pieter is dit vir hom en Nicole swaar om elke aand huis toe te gaan en Hayley by die hospitaal agter te laat, maar hulle vertrou ten volle op die dokters en mediese personeel by die hospitaal om deur die nag na haar om te sien. “Ons weet dat God elke oomblik sy hand oor Hayley hou en nou kan ons net bid dat die Here haar sal vashou en ons sal sterk maak om nie op te gee nie. Dit is nie te danke aan geluk dat dit so goed gaan met Hayley nie, maar te dank aan God se genade. Ons sê dankie dat die Here ons gekies het om Hayley se ouers te wees en ons is dankbaar dat ons ʼn getuienis vir die res van die wêreld kan wees.”