Volgens mediaberigte het twee van die Gupta-broers Suid-Afrika verlaat.
Die City Press het Sondagoggend berig Ajay en Atul Gupta, een van hul vroue en vyf assistente het Donderdagaand laat van Lanseria-lughawe met hul privaat straler na Dubai vertrek. Volgens die koerant het hulle ʼn “berg bagasie” by hulle gehad.
Maroela Media het vroeër berig Atul Gupta, Vuran Gupta en pres. Jacob Zuma se seun, Duduzane Zuma het met onmiddellike effek by Oakbay Resources bedank.
Die maatskappy het in ʼn verklaring gesê die besluit spruit uit die “politieke aanval op die maatskappy” en die bekommernis dat die werk en lewensbestaan van sy 1 000 werknemers in onmiddellike gedrang kan wees weens Atul, Varun en Zuma se verbintenis met die maatskappy.
Die nuus van die Gupta-broers en Zuma se bedanking kom enkele dae nadat FNB aangekondig het dat hulle Oakbay Resources se rekeninge gesluit het. Absa het ook vroeër vandeesweek sy verbintenis met die maatskappy beëindig te midde van bewerings dat die Gupta-familie ʼn invloed op pres. Zuma en die regering se sake het.
Die gesin is veral onder druk geplaas ná bewerings dat hulle ʼn invloed gehad het op Zuma se aanstelling van Mosebenzi Zwane, minister van mynbou, en die voormalige minister van finansies, Des van Rooyen. Mcebisi Jonas en voormalige ANC-LP Vytjie Mentor het onthul die Guptas het ook vir hulle ministersposte aangebied.
Lees alle vorige berigte oor die Guptas op Maroela Media.