Minstens 100 persone is Sondag dood en 200 beseer toe ʼn groot brand tydens ʼn vuurwerkvertoning by ʼn tempel in die suide van Indië uitgebreek het.
Die brand het ontstaan toe ʼn vonk van ʼn vuurwerk ander vuurwerke aan die brand gesteek het wat by die Puttingal-tempel in Paravoor, Kerala geberg is, het Ramesh Chnnitala, minister van binnelandse sake, gesê.
Duisende persone was in die tempel toe die groot ontploffing omstreeks 03:00 plaasgevind het, het beamptes gesê. Die brand het vinnig deur die tempel versprei en aanbidders was in die gebou vasgekeer.
ʼn Polisiebeampte van Kerala wat anoniem wou bly omdat hy nie gemagtig is om met verslaggewers te praat nie, het gesê minstens 84 persone is dood. Die plaaslike televisiekanaal NDTV het egter intussen bevestig die dodetal het tot minstens 100 gestyg.
Plaaslike televisiekanale het beeldmateriaal uitgesaai van groot wolke wit rook wat uit die tempel borrel, terwyl vuurwerke steeds in die donker nag afgegaan het. Groot stukke beton het tot ʼn kilometer ver deur die lug getrek toe die vuurwerke, wat gestoor is, afgegaan het, volgens ʼn inwoner, Jayashree Harikrishnan. Sy het gesê van die stukke het in hul erf geland.
Beamptes het bevestig die brand is reeds onder beheer gebring. Reddingsbeamptes soek deur die puin na oorlewendes en grondverskuiwingsmasjiene word gebruik om die puin skoon te maak. Beseerde persone word met ambulanse na nabygeleë hospitale geneem.
ʼn Mededingende vuurwerkvertoning word jaarliks by die tempel gehou en verskillende groepe hou vuurwerkvertonings vir duisende aanbidders. Die kompetisie vind op die laaste dag van ʼn sewe dag lange fees plaas wat die godin Bhadrakali vereer, ʼn suidelike Indiese inkarnasie van die Hindu-godin Kali.
Die kompetisie het hierdie jaar sonder toestemming plaasgevind, nadat die staat se hooggeregshof mededingende vuurwerkvertonings by tempels verbied het.
Shibu Baby John, minister van arbeid, het gesê die voorval word ondersoek en die slagoffers sal vergoed word.
-Associated Press-skrywers Nirmala George en Katy Daigle in New Delhi het bygedra tot hierdie berig.



