Die stempunt in Lethabong naby Rustenburg in Noordwes het Saterdag onverwags vroeg gesluit en kiesers in die gebied moedeloos gelaat.
Kiesers het gehaas om hul registrasie- en adresbesonderhede by die gemeenskapskleuterskool in Lethabong op datum te bring, toe die hekke teen 16:45 reeds gesluit is.
“Dit is vyfuur, ons is gesluit. Kom môre [Sondag] weer,” het ʼn vrou by die hek aan hulle gesê.
Toe hulle aangesê is die hek moes eintlik eers om 17:00 sluit, het sy gesê hulle het opdrag ontvang om die stasie te sluit.
Stempunte is dwarsoor die land hierdie naweek tussen 08:00 en 17:00 oop vir die finale registrasienaweek voor die plaaslike regeringsverkiesing op 3 Augustus.
Kiesers word gemaan om seker te maak hul adresbesonderhede is wel korrek op die kiesersrol. Indien ʼn fisiese adres nie op die kiesersrol aangedui is nie, sal die kieser nie kan stem nie. Dit volg ná die konstitusionele hof se uitspraak in November verlede jaar oor die debakel oor Potchefstroom in Noordwes se munisipale verkiesings.
Die OVK in Rustenburg stel ondersoek in waarom die Lethabong-stempunt vroeg gesluit het.
Stemgeregtigdes kan hul registrasiestatus nagaan:
Besoek die OVK se registrasiewebwerf
Laai die app af
Skakel *120*432# (en volg die stappe)
SMS jou ID-nommer aan 32810 (R1 per SMS)
Skakel 0800 11 8000
Die stempunte is Saterdag en Sondag tussen 08:00 en 17:00 oop.
ʼn Afskrif van die REC 1-vorm kan op die OVK-webwerf afgelaai word en vooraf ingevul word om die registrasieproses te bespoedig.