Verskeie paaie in sentraal-Pretoria moes deur die polisie afgesper word terwyl lede van die Suid-Afrikaanse Kommuniste Party (SAKP), die Young Communist League en die SA Congress of Trade Unions (SACTU) ʼn optog van die stad se sakesentrum tot by die gevangenis gehou het. Twee polisie-njalas het voor die ingang van die gevangenis gestaan.
In ʼn verklaring wat Donderdag deur die betogende organisasies uitgereik is, het hulle gesê dat hulle die besluit van Michael Masutha, minister van justisie en korrektiewe dienste, steun dat daar teen die hofuitspraak dat Walus vrygelaat moet word, geappelleer moet word.
Die hof het vroeër vandeesmaand die minister se weiering om die Poolse immigrant, wat Hani 23 jaar gelede geskiet het, op parool vry te laat, tersyde gestel. Masutha is aangesê om Walus se paroolvoorwaardes binne die volgende 14 dae vas te stel en hom vry te laat.
Walus, ʼn Poolse immigrant, het Hani, die leier van die SAKP, in April 1993 doodgeskiet. Hy is oorspronklik die doodstraf opgelê, maar dit is later na lewenslange tronkstraf omgeskakel nadat die doodstraf afgeskaf is.
Clive Derby-Lewis, wat ook lewenslange tronkstraf uitgedien het vir sy aandeel in die moord op Hani, is verlede jaar ná herhaalde pogings op mediese parool vrygelaat.




