So meen politieke analiste in reaksie op die konstitusionele hof se bevinding dat Zuma versuim het om die grondwet te handhaaf of sy presidensiële plig na te kom toe hy Thuli Madonsela, die openbare beskermer (OB), se bevindinge en regstellende stappe in haar Nkandla-verslag geïgnoreer en van die hand gewys het. In die opspraakwekkende uitspraak Donderdag het die hof Zuma beveel om persoonlik ʼn gedeelte van die staatsgeld wat aan nie-sekuriteitsopgraderings by sy private Nkandla-woning bestee is, terug te betaal.
Daniel Silke, ʼn politieke analis, het Vrydag aan Maroela Media gesê die uitspraak was nie net ʼn harde hou vir Zuma en sy presidentskap nie, maar ook ʼn vernedering vir die Nasionale Vergadering en die ANC-koukus binne die Nasionale Vergadering. “Die uitspraak sal die verdelings en onsekerhede wat waarskynlik reeds in die koukus bestaan net vererger en die lewe vir die ANC moeilik maak in die aanloop tot die plaaslike verkiesings later vanjaar,” het hy gesê.
Silke meen egter dat Suid-Afrikaners nie moet verwag dat die ANC Zuma sommer net so uit die party sal skop nie. “Die topstrukture in die ANC sal beslis nou gaan sit en die voor- en nadele van Jacob Zuma opweeg. Daar sal besluit moet word wat hulle met hom gaan maak en hoe dit hul kanse in die komende verkiesing sal beïnvloed,” het hy gesê. “Die ANC is histories ʼn organisasie wat verkies om sake deur sy eie interne meganismes te hanteer, so ek dink ons kan ʼn lang, uitgerekte proses verwag waarin daar onder meer gesoek sal word na ʼn gepaste kandidaat wat Zuma kan vervang. Dit is egter onwaarskynlik dat hy sy presidensiële termyn wat in 2019 tot ʼn einde kom, sal uitdien.”
Prof. Susan Booysen, politieke ontleder aan die Universiteit van die Witwatersrand, stem saam met Silke dat die ANC sover as moontlik die saak intern sal wil hanteer en dat dit daarom hoogs onwaarskynlik is dat die DA se poging om Zuma uit sy amp te laat verwyder sal slaag. “Om Zuma deur ʼn parlementêre proses te laat verwyder, sal beteken dat die ANC-lede ten gunste van ʼn opposisieparty se mosie teen hul eie leier moet stem. Dit gaan teen die grein van hoe die ANC werk. Hulle sal nie vir Zuma net so soos ʼn warm patat los nie,” het Booysen gesê.
“As Zuma uit sy amp verwyder word, is dit baie meer waarskynlik dat dit ʼn besluit deur die party se Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK) sal wees of dat daar ʼn nasionale konferensie belê sal word om te besluit op ʼn tussentydse leier totdat ʼn gepaste opvolger gevind kan word. Maar dit sal nie oornag gebeur nie.”
Volgens Booysen groei die “anti-Zuma faksie” al hoe meer en sal kiesers waarskynlik dophou hoe die party die saak hanteer. “Zuma simboliseer op ʼn manier alles wat verkeerd gegaan het in die ANC, so dit kan wees dat hul ondersteuners byna uit beloning positief sal reageer as die party vir Zuma verwyder. Maar een ding is seker, mense wil graag nog in die ANC glo.”
Silke sê dat die hofuitspraak teen Zuma nie noodwendig sal beteken dat kiesers vertroue in die party sal verloor nie, omdat die uitspraak grootliks vir Zuma as die sondebok uitgewys het. “Op ʼn snaakse manier gee hierdie uitspraak amper vir die ANC die geleentheid om skoon te kom oor hul eie probleme en te wys “ons aanvaar aanspreeklikheid en ons respekteer die grondwet”. As hulle die hele storie onder die mat ingevee het, kon dit kiesers dalk boos gemaak het, maar hierdie uitspraak kan selfs op die langtermyn ʼn positiewe effek op die party hê,” het hy gesê.
“Ek dink egter dat die party se NUK redelik gou ʼn aanduiding sal moet gee van watter rigting die party met hierdie saak gaan inslaan en ek vermoed ons kan binnekort ʼn reaksie van hulle verwag.”