Vandag presies vyf jaar gelede is Chantelle Barnard (20) wreed op ʼn kleinhoewe in Benoni aan die Oos-Rand verkrag en vermoor. Jurgen Vandekeere, die 38-jarige verdagte wat tereg staan op dié grudade, is egter nog soek nadat hy tydens sy verhoor op die vlug geslaan het.
Barnard se familie het hernude pogings aangewend om Vandekeere, wat ook op Interpol se lys van gesoekte persone geplaas is, op te spoor sodat hy verhoor kan word.
“Ons as familie gaan jaar na jaar deur met die hartseer en kwaad dat hy vry rondloop en dit wil voorkom of die polisie nie veel doen om hom aan te keer nie,” het Chris van Current, Barnard se swaer, Vrydag aan Maroela Media gesê.
Maroela Media het vroeër berig Vandekeere word daarvan beskuldig dat hy Barnard op 1 April 2011 in sy huis op ʼn hoewe in Benoni verkrag en vermoor het. Nadat sy verkrag is, is Barnard keelaf gesny en toe gebad. Haar ma, Suzette, het die aand omstreeks 22:00 op haar naakte liggaam op die slaapkamer se vloer afgekom.
Vandekeere se pa was die opsigter van ’n woonstel op ’n hoewe in Doreenweg, waar Barnard saam met haar ma, broer en mansvriend gewoon het.
Vandekeere is op die toneel in hegtenis geneem en is later borgtog geweier in die Benoni-streekhof. Hy was vir ongeveer twee maande in aanhouding toe hy die hooggeregshof genader het om borgtog, en waar dit toegestaan is. Hy moes 9 September 2013 weer in die hof verskyn het, maar het nooit opgedaag nie en is sedertdien soek.
Van Current het gesê Vandekeere is sedertdien een keer op ʼn lughawe in Maputu gesien en daar word vermoed dat hy moontlik by familie in België skuil.
Hy het ʼn beroep op die publiek gedoen om ʼn plakkaat met Vandekeere se inligting en foto’s wyd op sosiale media te versprei in die hoop dat iemand hom sal herken.
Mense met meer inligting oor waar Vandekeere hom mag bevind, kan die plaaslike ondersoekbeampte, ao. Pieter Mbonani by die Benoni-polisiestasie by 082 301 2276 bel. Mense wat hom oorsee gewaar kan Interpol via hul webwerf in kennis stel.
Maroela Media het navraag by die provinsiale polisie gedoen oor huidige stand van sake, en wag nog vir terugvoer.
