Die polisie het beroep op die publiek gedoen om inligting te verskaf wat die polisie kan help om die skuldige in ʼn tref-en-trap-voorval in Pietermaritzburg, KwaZulu-Natal, vas te trek, nadat ʼn onbekende man, vermoedelik in sy vroeë 50’s, doodgery is.
Volgens Chitra Bodasing, woordvoerder van ER24, is die man Woensdagaand in Short Retreatweg deur ʼn voertuig getref en sowat 300 m ver gesleep.
“Die man was reeds dood toe paramedici by die toneel opgedaag het. Die voertuig wat hom getref het, was nie op die toneel nie,” het Bodasing gesê.
Lt. Nqobile Gwala, provinsiale polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê die oorledene het nie enige vorm van identifikasie aan hom gehad nie en sy identiteit is nog onbekend.
Die Alexandra Road-polisie ondersoek ʼn saak van strafbare manslag. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
Mense met inligting wat die polisie in hul ondersoek kan bystaan kan die stasie bel by 033 845 7726.