ʼn Bus het Vrydagoggend van ʼn snelweg in Tongaat, KwaZulu-Natal, afgery nadat die bestuurder deur een van die passasiers doodgeskiet is.
Lt. Nqobile Gwala, woordvoerder van die polisie, het gesê die voorval het net na 06:00 op die Watson-snelweg gebeur. Die bus was glo vol passasiers toe ʼn man ʼn vuurwapen uitgeruk en geld by die busbestuurder geëis het. Die bestuurder is in die kop geskiet en die bus het van die pad af gery en teen ʼn wal tot stilstand gekom, het Gwala gesê.
“Die skieter het van die toneel af gevlug sonder om enigiets te steel en is steeds op vrye voet,” het Gwala gesê.
Kyle van Reenen, woordvoerder van Crisis Medical wat na die toneel ontbied is, het gesê die bestuurder was met hul aankoms reeds dood. Die passasiers was ongedeerd.
ʼn Saak van moord word ondersoek.