
Pikitup-werkers het tydens hul staking in Maart 2016 vullisdromme in die strate omgekeer (Hoek van Jeppe- en Von Brandisstraat in Johannesburg se middestad) Foto: Siphelele Dludla/ANA
Die Johannesburgse vullisverwyderingsmaatskappy Pikitup het Donderdag salarisse aan sy werknemers oorbetaal, ondanks die feit dat hulle al vir die grootste deel van die maand staak.
Die munisipalewerkersvakbond Samwu het Donderdag bevestig sy lede het hul salarisse ontvang, maar kon nie bevestig of al 4 000 wel hul salarisse ontvang het en of enige geld afgetrek is vir die dae wat die lede nie gewerk het nie.
Ongeveer 4 000 Pikitup-werkers, wat lede is van Samwu, het op 9 Maart met ʼn onbeskermde staking begin. Hulle eis salarisverhogings van tussen R6 000 en R10 000 per maand en dat die hoof, Amanda Nair, moet bedank.
Jacky Mashapu, woordvoerder van Pikitup, het gesê die maatskappy sal werkers se salarisse van volgende maand af terughou, soos in die verlede gebeur het tydens soortgelyke stakings. “Die proses is nie dadelik nie. Salarisse sal volgende maand teruggehou word vir die dae wat daar nie gewerk is nie.”
Mashapu wou nie bevestig hoeveel dae se salaris teruggehou sal word nie, en verduidelik dat dit eers bepaal sal word wanneer die staking tot ʼn einde gekom het. “Die beginsel van geen-werk, geen-betaling, geld. Ons sal bepaal hoeveel dae [die werkers] nie gewerk het nie,” het hy gesê.
Tshidi Mfikoe, burgemeesterskomiteelid verantwoordelik vir die omgewing- en infrastruktuurportefeulje, was nie beskikbaar nie, aangesien sy met verlof is.
Mashapu het bevestig die staking kos hulle R1 miljoen per dag, maar aangedui die geld word uit die stad se gebeurlikheidsbegroting betaal.