Clik here to view.

President Jacob Zuma by die amptelike gesprekke met eerste minister Sheikh Mohammed bin Al Rashid Maktoum van die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) (Foto: @presidencyZA, Twitter)
Julius Malema, leier van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF), het Donderdag aangevoer pres. Jacob Zuma het “sakke vol geld gevat om te gaan versteek” tydens sy onlangse besoek aan die Verenigde Arabiese Emirate (VAE).
“Zuma se reis na die VAE was nie amptelik nie, dit was persoonlik,” het Malema aan verslaggewers in Johannesburg gesê. “Hy het geld gevat om dit in die VAE te gaan versteek, net soos die Gupta-familie R6 miljard na Dubai geneem en die vereistes van die Reserwebank verontagsaam het.”
Volgens Malema was dit vir die president “maklik om te doen”, want hy is ʼn president en word dus nie deur veiligheidsbeamptes deursoek nie.
Malema het dié uitlatings gemaak na die uitspraak in die konstitusionele hof teen Zuma in die Nkandla-saak. Volgens die uitspraak het Zuma die Grondwet oortree toe hy versuim het om ag te slaan op die Openbare Beskermer se bevinding dat hy ʼn bedrag, soos bepaal deur die tesourie, aan die staat moet terugbetaal vir opknappingswerk by sy huis in Nkandla.
Clik here to view.

President Jacob Zuma by die amptelike gesprekke met eerste minister Sheikh Mohammed bin Al Rashid Maktoum van die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) (Foto: @presidencyZA, Twitter)
Malema het gesê Zuma beweer die reis na die VAE was om toerisme te bevorder, “maar die minister van toerisme was nie deel van die reis nie”. “Waar was die minister van toerisme as dit oor sy portefeulje gehandel het? Daardie reis was persoonlik en het niks te doen gehad met die land se belange nie.”
Malema het ook Melusi Gigaba, minister van binnelandse sake, daarvan beskuldig dat hy “baie duur pakke klere” dra, wat hy glo nie met ʼn minister se salaris sou kon bekostig nie. “Gigaba is baie korrup, hy is ook onder beheer van die Gupta-familie. Hy dra baie duur pakke klere. Sy vrou het die duurste handsakke. Ons versoek die Suid-Afrikaanse Inkomstediens om ʼn leefstyl-oudit te doen op Gigaba; die res van die ANC-regering is in zombies verander deur die Guptas.”
Die omstrede Gupta-familie, wat Zuma erken het is sy vriende, besit die New Age-koerant en televisiekanaal ANN7. Die familie, wat in die middel staan van onlangse bewerings oor ʼn staatsvergryp, is ook sakevennote met Zuma se seun, Duduzane.